Indien ons nie verstaan hoe pensioenfondse deur die wet gereguleer word nie, maak dit ons finansië besluite by aftrede uiters moeilik, skryf Pieter Willem Moolman.

Enigiemand wat as lid van ‘n pensioenfonds, uittree-annuïteitsfonds of bewaringsfonds aftree, moet kragtens die wet met ‘n deel van die opbrengs ‘n verpligte lyfrente aankoop wat voortaan ‘n inkomste sal verskaf.

By aftrede, behoort jy te weet watter voorsiening jy vir dié stap gemaak het. Jou besluit oor hóé jy die geld gaan aanwend, hou egter verreikende gevolge vir jou latere finansiële sekuriteit in.

Jou belangrikste taak in dié stadium behels dus die keuse van ‘n gepaste inkomste-strategie – soos byvoorbeeld ‘n gewaarborgde lyfrente of ‘n beleggingsgekoppelde pensioen.

‘n Gewaarborgde lyfrente bied aan jou ‘n gewaarborgde lewenslange inkomste. Nog iemand, byvoorbeeld jou gade, kan ter aanvang bygevoeg word en die inkomste is dan betaalbaar totdat die langslewende versekerde sterf.

Gewoonlik eindig die betaling van die inkomste ná die afgetredene se dood, maar dit is moontlik om aan die begin ‘n waarborgtermyn te kies. As die versekerde gedurende dié tydperk sterf, word die inkomste tot aan die einde van die termyn aan die versekerde se begunstigdes betaal.

As ‘n waarborgtermyn van tien jaar gekies word, is die bedrag dus vir minstens tien jaar betaalbaar. Die inkomste kan op ‘n bepaalde vlak bly of jaarliks teen ‘n vaste koers styg; byvoorbeeld vyf persent.

Hoewel die aanvanklike inkomste van ‘n stygende lyfrente laer is, is ‘n stygende inkomste noodsaaklik om ná aftrede jou lewenspeil te handhaaf, aangesien jou uitgawes jaarliks saam met inflasie gaan toeneem.

‘n Beleggingsgekoppelde pensioen bied ‘n keuse van ‘n reeks beskikbare beleggingsfondse. Die aankoopbedrag word in die gekose beleggingsfondse belê en gebruik om ‘n inkomste te verskaf.

Tussen 2.5 en 17.5 persent van die algehele waarde van die belegging móét elke jaar as inkomste onttrek word. Die bedrag kan jaarliks aangepas word solank die inkomste tussen 2.5 en 17.5 persent van die waarde van die belegging bly.

As die aanvanklike vlak van die inkomste te hoog is en die bedrag jaarliks verhoog word sodat dit met inflasie tred hou, gaan dit die een of ander tyd deur die maksimum-onttrekkingspersentasie beperk word. Daarna sal dit nie meer moontlik wees om die inkomste in dieselfde tempo as inflasie te verhoog nie en sal die inkomste heel moontlik begin afneem.

Die keuse by aftrede is ingewikkeld. Verskeie inkomste-opsies is beskikbaar en die mees gepaste strategie kan uit ‘n kombinasie bestaan.

Daarom is dit raadsaam om ‘n ervare, geregistreerde finansiële adviseur te raadpleeg en seker te maak jy kies die mees gepaste een vir jóú finansiële situasie.

Onthou, die voorsiening wat jy maak, bly die belangrikste bydraende faktor tot jou finansiële sekuriteit ná jou aftrede.

Pieter Willem is ‘n finansiële raadgewer en stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Die onderneming se missie is om finansiële sekuriteit en welvaart vir kliënte te skep. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.