‘n Eenvoudige testament, wat prakties en uitvoerbaar is, is vir elke volwassene noodsaaklik, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.

Die belangrikheid hiervan spreek duidelik uit ‘n onlangse geval toe ‘n boer oor sy testament raad gevra het.

Aanvanklik het syne heel eenvoudig gelyk, maar toe dit van nader beskou word, was dit duidelik dat dit nie uitvoerbaar was nie.

Die man se bates het bestaan uit twee plase, vee, ‘n strandhuis en ‘n kontantbelegging van omtrent R1 miljoen.

Kragtens die testament sou die seuns die plase erf, die strandhuis in ‘n trust opgeneem word en omtrent ‘n halfmiljoen rand aan sy dogters betaal word. Die res van die boedel het hy nagelaat aan sy vrou, met wie hy 51 jaar lank getroud was.

Tot sy groot verbasing het ‘n behoorlike ontleding aan die lig gebring dat sy vrou niks sou erf nie omdat daar nie genoeg kontant in die boedel was nie.

Die tekort is hoofsaaklik veroorsaak deur kapitaalwinsbelasting, boedelbelasting en die eksekuteursfooie.

In dié geval sou die eksekuteurskoste omtrent R1 miljoen beloop, wat van iewers af gekry moes word. Die gevolge sou verwoestend wees.

Die weduwee, die vernaamste erfgenaam, sou niks erf nie en op andere moes staatmaak om haar lewenstandaard te handhaaf. Maar ‘n nuwe wet sou haar in staat stel om onderhoud te eis.

Om iets uit ‘n boedel te erf, is ‘n voorreg; nie ‘n reg nie. Dit is noodsaaklik om seker te maak dat jou lewensmaat ná jou dood finansieel onafhanklik is.

Dit moet ‘n voorkeursaak wees. En dit moet benadruk word dat jy seker moet wees jy weet wat die restant van jou boedel beloop.

Iets anders wat probleme kan veroorsaak, is ‘n aanwas-eis. Sulke eise raak mense wat ná 1983 getroud is.

Sedert daardie jaar is die meeste mense getroud buite gemeenskap met die aanwasbedeling.

Mense laat dikwels hul bates na sonder dat hulle ‘n aanwas-eis in gedagte hou. Om jou testament te laat afhandel, moet jy weet wat dié eis sal behels.

En onthou dat die aanwas-eis weerskante toe van toepassing is. Dit moet betaal word by die dood van die man óf sy gade.

Die berekening word gewoonlik gedoen asof die man eerste sal sterf, maar ‘n berekening moet ook gedoen word ingeval die vrou eerste sterf. In baie gevalle is dit vir ‘n man die moeite werd om lewensversekering vir sy gade uit te neem.

Al dié ingewikkelde sake bring mee dat verskeie berekeninge gedoen moet word. Daarom is dit noodsaaklik om ‘n kundige te raadpleeg.

Pieter Willem is ‘n finansiële raadgewer en stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Die onderneming se missie is om finansiële sekuriteit en welvaart vir kliënte te skep. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.