Vir jong mense wat welvaart wil skep, is dit noodsaaklik dat hulle van vroeg af die belangrikheid van investering begryp, skryf Pieter Willem Moolman.
Een van die belangrikste vrae waarmee hulle in die beginstadium te doen sal kry, is hoeveel skuld as normaal beskou kan word.
Skuld kan ‘n merkwaardige werktuig wees, maar moet na my mening net aangebied word aan mense wat dit met respek bejeën.
Die aangaan van korttermyn-skuld om klere en huishoudelike goedere aan te skaf, kan byvoorbeeld oor ‘n lang termyn finansiële selfmoord wees.
Ongelukkig is verskeie soorte skuld geredelik vir verbruikers beskikbaar, selfs al kan hulle nie die terugbetalings beskostig nie. Korttermyn-skuld, met inbegrip van krediet- en winkelkaarte, persoonlike lenings en huurkoop, moet vermy word.
Mediumtermyn-skuld behoort nie meer as 20 persent van jou huishoudelike inkomste te beloop nie. Een voorbeeld daarvan is voertuigfinansiering oor ‘n tydperk van 54 of 60 maande, wat onderhoud en versekering insluit.
Langtermyn-skuld, soos huislenings, kan as goeie skuld beskou word – as jy die afbetalings en ander uitgawes wat met die eiendom verband hou, kan bekostig en nog geld het om te spaar.
Bogenoemde maak dit duidelik dat skuld iets goeds kan wees, maar net as jy dit met die vereiste respek behandel. As jy skuld moet aangaan om weelde-goedere te koop, beteken dit eintlik jy kan dit nie bekostig nie.
Vir diegene wat na langtermyn-kapitaalgroei streef, is die koop van aandele een van die beste maniere om beleggings te benader.
Jong mense moet so vroeg moontlik die aandelemark betree. Hulle kan dit deur ‘n makelaar doen of deur effektetrusts of ander beleggingsprodukte te bekom.
As jy maandeliks ‘n vaste bedrag wil spaar, is effektetrusts die koste-doeltreffendste en toeganklikste opsie. Beleggings in aandele moet egter nie gebruik word om korttermyn-doelwitte na te streef nie, want aandele kan in die kort termyn onbestendig wees.
Belê en spaar is nie maklik nie, maar behels eintlik ‘n eenvoudige kopsep: bestee minder as wat jy maandeliks verdien en pas dissipline toe deur die res te spaar.
Die finansiële kenner Warren Buffet se woorde is besonder toepaslik: “Moenie spaar wat ná besteding oorbly nie; bestee wat ná spaar oorbly.”
Eiendom is die moeilikste bateklas wat ‘n mens kan bespreek, want in die meeste gevalle is ‘n huis ‘n leefwyse-bate; nie ‘n belegging nie. Jy verdien nie ‘n inkomste daaruit nie en dit kos jou geld.
‘n Verband verplig ‘n mens egter om maandeliks geld weg te sit wat andersins moeilik is. Jou ouers meen waarskynlik eiendom is ‘n puik belegging omdat dit een van hul enigste verpligte spaarmetodes was en hulle voordeel uit die krag van saamgestelde groei getrek het.
‘n Ander opsie is om eiendom te koop en te verhuur. Jy gebruik dus die bank se geld om welvaart te skep, maar die administrasie daarvan kan heelwat tyd in beslag neem. Ander eiendomsbeleggings wat oorweeg kan word, is deur genoteerde eiendomsmaatskappye.
Maar almal het ook kontant as ‘n soort veiligheidsnet vir noodgevalle nodig. Ek stel voor jy hou ‘n bedrag gelykstaande aan twee maande se uitgawes in ‘n noodfonds soos ‘n geldmark-rekening of ‘n toeganklike huislening.
Die beste kombinasie van dié bogenoemde bateklasse hang van omstandighede af en kan dus van persoon tot persoon verskil.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.