Beleggers soek altyd die grootste opbrengs wat aan die kleinste risiko gekoppel is, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Daarom is die vraag altyd hoeveel risiko ’n mens kan bekostig.
’n Pensioentrekker wat my onlangs kom sien het, bied vir ons ’n goeie gevallestudie. Die dame het in ’n eiendomsindikasie-maatskappy belê en ontvang nie meer die hoeveelheid rente wat sy sê sy beloof is nie.
Vir haar het ek slegte nuus gehad: behalwe vir die verlies aan rente, staan sy ook ’n goeie kans om ’n deel van haar kapitaal, of alles, te verloor.
Dit was duidelik dat sy nie die belegging behoorlik verstaan het nie. Sy was egter gretig omdat hoë rente aangebied is.
Die algemene persepsie is mos dat eiendom ’n veilige belegging is. Normaalweg is dit so, maar beslis nie in dié geval nie.
Ek sal glad nie rustig slaap as ek my geld in enige soortgelyke maatskappy belê het nie, want in die algemeen is die beloofde inkomste en likiditeit van kapitaal net nie daar nie.
Twee bateklasse waarop ek vandag eerder wil fokus, is aandele en eiendom.
Aandele is ’n bateklas wat oor die langtermyn ’n goeie kapitaalopbrengs en selfs handige dividende kan verseker.
Dis egter riskant en moet met groot omsigtigheid en met die hulp van kundiges hanteer word.
Die beleggingstermyn moet verkieslik vyf jaar of langer wees.
Mens hoor daagliks van beleggers wat geld verloor het deur aandele in ongenoteerde maatskappye te koop en daarom is my raad om te fokus op dié wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is.
Die bemarkingsaksie van eersgenoemde maatskappye berus baie keer op ’n toekomstige notering wat dan nooit plaasvind nie.
Jou eie besigheid is wel ’n uitsondering en in baie sulke gevalle lewer beleggings ’n hoë opbrengs.
’n Belegging in eiendom kom gewoonlik ten minste een keer oor elkeen van ons se pad.
Die eiendomsmark is tans baie “pap” en dus is daar goeie beleggingsgeleenthede. Maar as ’n hoër as normale opbrengs beloof word, moet rooi ligte aangaan.
’n Verdere aspek van eiendomsbeleggings is likiditeit. Eiendom kan nie met die druk van ’n knoppie verkoop word nie.
Daarom, indien ons oor eiendomme in terme van beleggingsdoeleindes praat, moet ons kyk na eiendomstrusts wat op die aandelebeurs genoteer is.
Die opbrengs mag ’n bietjie minder as dié op jou persoonlike eiendom wees, maar die risiko is veel minder omdat dit gewoonlik gediversifiseer (residensieel, kommersieel en industrieel) is.
Die voordele is dat dit maklik verkoop kan word en dat huurders en onderhoud nie faktore is nie.
Vergeet dus van beleggingskemas en wees versigtig vir beleggings waar ’n hoë opbrengs belowe word. En onthou om net te belê by instansies wat jy vertrou.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.