Sommer so met die intrapslag in die nuwe jaar kom ek af op ʼn paar inspirerende gedagtes deur die blogger Tom Basson, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Dit is myns insiens noodsaaklike leesstof en daarom deel ek graag ’n paar van die hoofgedagtes wat verband hou met die vraag: Weet jy waarheen jy op pad is?
Basson sê die eerste stap aan die begin van die jaar is om terug te kyk na die hoogte- en laagtepunte van die afgelope jaar deur sekere vrae te stel.
Hy meen die beste manier om ’n nuwe jaar te begin, is deur jouself tot halt te roep, stil te raak en terug te kyk.
Vra jouself vrae soos: Wat was my dryfkrag in 2011? Wat was die oomblikke in 2011 wat ek wil onthou? Watter goeie kenmerke en leierseienskappe het ek verlede jaar in myself ontdek? Onder watter omstandighede het ek myself sien presteer?
Deur vrae soos dié eerlik te beantwoord, word ’n mens gedwing om jou toe te spits op die belangrike dinge in jou lewe. Dit gee jou ’n puik grondslag waarop jy doelwitte vir die nuwe jaar kan bou.
Die tweede stap aan die begin van die jaar wat Basson aanbeveel, is om beplanning te doen. Dit is heel eenvoudig: maak ’n plan, spring in en máák dit werk.
Om die plan saam te stel, moet jy eers ’n “lewensplan” formuleer. Dit behoort jou meer sekerheid te gee van waarheen jy op pad is en balans wanneer alles om jou dol raak en handuit ruk.
Hy stel ook voor dat ’n mens ’n lys maak van “101 dinge wat jy graag wil doen voordat dit te laat is”.
So ’n lys sal help verhinder dat jy passief raak en stagneer. Dit behoort jou te inspireer om risiko’s te neem, uit jou gemaksone te tree en asemrowende dinge aan te pak waarvoor jy dalk gewoonlik verskonings soek.
Daarby gaan dit verseker dat jy jou lewe ten volle geniet. ’n Mens is geneig om jouself en die lewe te ernstig op te neem en so ’n lysie kan jou help om skiet te gee en ’n slag voluit te lewe.
Ten laaste stel hy voor jy skryf jou doelwitte vir die jaar neer. Daarvoor moet jy jou lewensplan en die lys van “101 dinge” byderhand hou.
Moet dit nie oordoen nie. Alles moet gedurende die jaar haalbaar wees, maar dit moet ook buite jou gemaksone wees sodat jy jouself nie benadeel nie.
So ’n jaarlikse lysie behoort tussen 15 en 25 doelwitte te bevat. Probeer ook elke jaar ’n paar van die items op jou lys van “101 dinge” by jou jaarlikse doelwitte insluit.
Jy kan ook dinge byvoeg soos finansiële-, verhouding-, gesondheid- en werkdoelwitte asook goed soos “speel” en innerlike groei. Maak seker die lys is op ’n plek waar jy dit elke dag sal raaksien.
Beplanning soos dié is van kardinale belang en gewis die moeite werd. Sit sommer ’n hele dag daarvoor opsy.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.