Mense wat verhuis en hul goedere tydelik by ’n bewaarplek wil laat hou, moet seker maak hulle trek nie aan die kortste ent nie, skryf die finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Verhuising- en bewaarkontrakteurs se kontrakte bevat gewoonlik ’n klousule dat hulle kragtens die gemenereg nie aanspreeklik is vir verliese van of skade aan goedere wat in hul besit of onder hul beheer is nie.
In sodanige kontrakte word gewoonlik uitgestippel dat verliese deur die eienaar self gedra moet word. Die geldigheid van sulke klousules is egter betwisbaar.

Kontrakteurs sluit dikwels ’n opsie (teen bykomende koste) in hul kontrak in wat daarop neerkom dat jou goedere verseker sal wees terwyl dit in transito of op hul perseel is.

Die gedagte is dat, in geval van skade of verlies, ’n eis by die versekeraar ingedien sal word indien dié opsie aanvaar is en die eienaar dus vergoed sal word.

Dis egter nie heeltemal so eenvoudig nie. Die eerste vraag wat ontstaan is wie nou eintlik die versekerde kragtens so ’n polis is.

Indien dit die kontrakteur is, is die eienaar van die goedere in der waarheid nie ’n wesenlike party tot die poliskontrak nie.

Die kliënt se regte is dus beperk omdat hy of sy op die kontrakteur moet vertrou om die eis by die versekeraar in te dien.

As die eis toegestaan word, sal die geld aan die kontrakteur betaal word wat dit dan aan die eienaar moet oorbetaal. So ’n reëling kan dus klaarblyklik om verskeie redes ’n onbevredigende situasie vir die kliënt inhou.

Indien die kliënt wel as die versekerde of mede-versekerde in die polis benoem is, moet hy besef dat al die bepalings, uitsonderings, beperkings en uitsluitings, asook alle voorsienings vir bybetalings, regstreeks op hom van toepassing sal wees. Dit kan daartoe bydra dat die uitbetaling minder sal wees.

Dit is dus wenslik – in der waarheid ’n vereiste kragtens die Wet op Korttermynversekering – dat ’n afskrif van die polis aan die kliënt verskaf word sodat hy met die inhoud daarvan vertroud kan wees.

As die versekering slegs met die bewaring van die goedere te doen het, sal sy eiendom dalk nie gedek wees terwyl dit na die bewaarplek of woonplek onderweg is nie.

Beperkings op die waarde van sekere artikels kan ook in die kontrak voorkom. Verliese weens ’n kaping is dalk nie gedek nie en goedere wat nie behoorlik verpak of beskerm is nie, is dalk ook uitgesluit.

Indien die kliënt nie van sulke beperkings weet nie, wag daar dalk ’n onaangename verrassing op hom as ’n eis ingestel moet word.

Maak dus seker jy is as versekerde of mede-versekerde in die polis benoem voordat jy die kontrakteur se versekeringsopsie aanvaar.

Dring aan op ’n afskrif van die kontrak en maak seker die naam en adres van die versekeraar is ingesluit. Let op alle skynbare beperkings en uitsluitings.

Die eienaar kan gerus ook probeer vasstel of dit nie meer voordelig sal wees om self die goedere te verseker nie.

Deur ’n gesoute versekeringsmakelaar vir raad te nader, kan jy dalk ’n beduidend laer premie en gunstiger voorwaardes beding.
 
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.