Onderversekering, veral van die inhoud van ’n mens se huis, kan ernstige gevolge inhou, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Iemand het juis onlangs navraag gedoen om vas te stel hoe hy, in die geval van ’n eis, gepenaliseer kan word as hy onderverseker is.
Dis ’n vraag wat breedvoerig beantwoord behoort te word.
Onlangse statistieke dui daarop dat tot 77% van alle Suid-Afrikaners wie se huisinhoud verseker is, onderverseker is. Wat selfs meer kommerwekkend is, is dat dié mense met tot 61% onderverseker is.
Versekeraars sluit gewoonlik ’n klousule by hul poliskontrakte in wat stipuleer dat, indien ’n eis ingestel word, die versekerde proporsioneel gepenaliseer sal word.
Dit geskied ooreenkomstig die mate van onderversekering, wanneer die versekerde bedrag van die huisinhoud nie die volle vervangingswaarde (BTW ingesluit) verteenwoordig nie.
Kyk na hierdie voorbeeld: Jou huisinhoud is vir R250 000 verseker en jy ly skade van R100 000 nadat by jou woning ingebreek is.
Die versekeraar doen dan ’n “waarde-op-risiko”-berekening wat gegrond word op die volle vervangingswaarde van jou huisinhoud. Dit kom op ’n bedrag van R500 000 te staan – die bedrag wat jou huisinhoud werd was en waarvoor dit veronderstel was om verseker te wees.
Jy was dus met 50% onderverseker. Maar omdat R250 000 net mooi die helfte van R500 000 is, sal die versekeraar jou slegs vergoed vir 50% van jou aanvanklike eis. Jy kry dus slegs R50 000, pleks van die R100 000 skade wat jy gely het.
Dis maklik begryplik waarom versekeraars mense in die geval van onderversekering penaliseer.
Alle polishouers wat hul huisinhoud verseker, betaal premies wat gegrond is op die versekerde bedrae. Die premies word almal in ’n huisinhoudversekeringspoel inbetaal waaruit bona fide eise weer op hul beurt deur die versekeraar betaal word.
As jy slegs die helfte van die waarde van jou huis se inhoud as die versekerde bedrag aandui, sal jou versekeraar slegs 50% van jou eis uitbetaal. Dis geregverdig deurdat jy daartoe ingestem het om 50% van jou risiko self te dra.
Op dié basis sou jy ook ’n kleiner premie in die versekeringspoel inbetaal.
Die probleem is dat die meeste mense nie opsetlik onderverseker nie. Onderversekering is normaalweg die gevolg van polishouers wat hul versekerde bedrae op verminderde waardes baseer.
Die klem in korttermynversekering moet egter geplaas word op “nuwe” waarde in plaas van “ou” of “verminderde” waarde.
’n Ander algemene rede vir onderversekering is dat die vervangingswaarde van artikels soos juwele, antieke ware, kunswerke, versamelstukke ensovoorts onderskat word.
Al dié probleme kan voorkom word deur jou makelaar of versekeraar op ’n gereelde grondslag van ’n aangepaste inventaris van jou huisinhoud te voorsien. Die bedrae in die inventaris moet gegrond wees op die huidige vervangingswaarde, BTW ingesluit.
’n Mens moet onthou dat jou huisinhoud álles in jou woning insluit, van die geringste artikels soos teelepels tot duursame kledingstukke, juwele en elektroniese toerusting.
Die versekerde bepaal die versekerde bedrag; nie die makelaar nie. Die makelaar kan jou wel bystaan om die bedrag korrek te bereken. Raadpleeg hom of haar gerus.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.