Versekeringsbedrog is geensins seldsaam nie, al kan dit oortreders tronkstraf of swaar boetes op die hals haal, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.

Iemand vra nou onlangs wat hoelahoepel-bedrog is. Dit is wanneer die eienaar van ʼn voertuig reël dat ’n sindikaat of iemand anders kamtig sy voertuig steel en verkoop.
Dan deel die eienaar en die verkoper die geld en die eienaar dien boonop ʼn eis by sy versekeraar in om sy “verlies” te verhaal. Op dié manier kry hy ’n nuwe motor asook ’n meevallertjie.

Dié soort versekeringsbedrog kom meer algemeen voor as wat baie mense dink. Dit gebeur ook in eenvoudiger vorme soos wanneer iemand ‘n eis instel vir die verlies van ʼn duurder sonbril as wat hy gehad het, of vir artikels wat nie werklik weggeraak of gebreek het nie.

As jy ʼn versekeringsmaatskappy op enige manier mislei, of voordeel trek waarop jy nie geregtig is nie, maak jy jou aan bedrog skuldig. As jy die waarheid verdraai om uit versekering voordeel te trek, of om iemand anders te benadeel, is dit bedrog.

Met sulke slenters kan ‘n mens jou lelik vasloop, want die Suid-Afrikaanse Versekeringsmisdaadburo (SAVMB) het ’n beleid van algehele onverdraagsaamheid ten opsigte van bedrog.

Iemand wat daaraan skuldig bevind word, kan in die tronk beland of swaar beboet word en boonop verhinder word om ooit weer versekering uit te neem.

Versekeringsmaatskappye, wat ook hul eie interne ondersoekspanne en waardeerders het, kan iemand se kontrak nietig laat verklaar as hulle kan bewys iets skort met ‘n eis. Dan is die versekerde sy eisgeld én sy versekering kwyt.

Sulke maatskappye deel ook inligting met mekaar, soos oor poliskansellasies. Hulle weet gewoonlik wie nie ’n goeie versekeringsrekord het nie.

Die algemeenste bedrog is die indien van eise vir goedere wat nie verloor is nie, of vir iets van ‘n beter gehalte as ʼn artikel wat wel weggeraak het. Party mense gee ook ewe vroom voor hul skootrekenaar, kamera of selfoon is uit hul motor gesteel en stel dan ‘n eis in, al het dit nie werklik gebeur nie.

‘n Mens mag meer as een polis by meer as een maatskappy hê vir dieselfde risiko, maar jy mag nie vir die verlies van ʼn bepaalde artikel by al die maatskappye eis sonder dat jy hulle van die ander polisse verwittig nie.

Vals inligting op jou polisdokument is ook bedrog.
 
Die goeie nuus is dat jy as kliënt ook beskerming geniet ingeval ’n versekeringsmaatskappy of ‘n makelaar jou inloop. Dié maatskappye word wetlik verplig om ’n hulplyn vir dispuutoplossing en ‘n klagteproses te hê wat deur ontevrede kliënte benut kan word.

Dié inligting is gewoonlik in die bewoording van jou polisdokument vervat. Jou versekeringsmaatskappy moet ook aan jou inligting verskaf oor watter proses jy kan volg as jy klagtes oor sy diens het.

As jy nie met die proses tevrede is nie, kan jy die Ombud vir Korttermynversekering raadpleeg. As jou klagte teen ‘n makelaar gerig is, kan jy dit by die Ombudsman vir Finansiëlediensverskaffers, FAIS Ombud, indien.
 
Nog ‘n stukkie nuttige raad: vermy probleme deur presies te weet wat jy wil verseker nog voordat jy die polis uitneem. Kry dan kwotasies van verskeie makelaars en maatskappye en vergelyk die pryse en voordele.

Stel vrae om seker te maak presies wat verseker is. Gaan die dokumente na sodra jy hulle kry en maak seker alles is soos jy dit met die maatskappy of makelaar bespreek het.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.