’n Testament is in wese ’n ooreenkoms wat jy met iemand (jou eksekuteur) sluit waarin jy aan hom of haar uiteensit wat met jou bates en laste gedoen moet word wanneer jy sterf, skryf Pieter Willem Moolman.
Soos elke ander ooreenkoms móét dit onderteken word om dit geldig te maak.
’n Ongetekende of verkeerd ondertekende testament kan praktiese probleme veroorsaak en onnodige stres op familielede en begunstigdes van die oorledene plaas.
Navorsing het aan die lig gebring dat die meeste mense wat ’n testament laat opstel dit nie onderteken nie.
Wat die meeste mense nie besef nie, is dat hulle nie ’n geldige testament het as die vereistes ten opsigte van ondertekening, soos vervat in Artikel 2 van die Testamentewet, nie nagekom word nie.
Die vraag wat onmiddellik opduik, is wat sal gebeur as ’n testament nie onderteken is nie of verkeerd onderteken is. In so geval geld die bepalings en voorwaardes van intestate erfopvolging, soos bepaal deur die wet.
Die gevolg is dikwels dat die oogmerke van die oorledene nie uitgevoer kan word nie en dus dat bemakings dalk nie tot voordeel van die familielede of ander begunstigdes sal wees nie.
In die geval van ’n ongeldige of ongetekende testament sal bemakings aan minderjariges in beheer van die staat se Voogdyfonds geplaas word. Met ’n geldige testament kon ’n testamentêre trust opgerig gewees het.
Sonder een kan jy ook nie voogde vir minderjarige kinders aanwys nie en word dié verantwoordelikheid dan na die familie of welsyndienste oorgedra.
Dit beteken ook dat ’n eksekuteur eers ná jou dood aangewys kan word.
Die gevolg hiervan kan wees dat jou wense nie uitgevoer word nie asook ’n moontlike vertraging in die afhandeling van die boedel. In ’n testament, kan jy ’n eksekuteur benoem.
Waar die testateur familielede (ouers, broers of susters) wou bevoordeel, kan dit sonder ’n testament gebeur dat geen familielid ’n voordeel ontvang nie. Die oorledene se gade ontvang alles in die geval van intestate erfopvolging waar geen kinders betrokke is nie.
As daar geen lewende familielede by intestate erfopvolging is nie, sal die hele boedel aan die staat verbeur word.
Onthou dat die wet ten opsigte van intestate erfopvolging nie voorsiening maak vir permanente saamwoonverhoudings en lewensmaats kragtens die gemene reg nie.
Pas ook op vir die “klaargemaakte” testamente wat jy sommer by skryfbehoeftewinkels kan koop. Dié soort testament kan dubbelsinnig wees, of nie jou wense korrek bewoord nie.
Dit kan daartoe aanleiding gee dat regsadvies eers ingewin moet word voordat jou boedel afgehandel kan word. Daarby kan so ʼn testament verwerp word as dit nie aan die vereistes van die wet voldoen nie, wat weer kan veroorsaak dat die bepalings van intestate erfopvolging gevolg sal word.
’n Testament bepaal hoe die boedel behartig moet word wanneer iemand sterf en dit is dalk die belangrikste dokument wat jy ooit moet opstel en onderteken – en, wees gewis, die opstel van testamente is ’n hoogs tegniese en gespesialiseerde veld.
Dit is dus belangrik dat ’n mens moet seker maak jou testament word deur ’n professionele persoon opgestel sodat dit jou volle bedoelinge bevat en aan die spesifieke wetsbepalings voldoen.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.