Slaggate in sekere paaie, veral ná die onlangse reën, is nie al waarvoor ʼn mens jou oë moet oophou nie, skryf Pieter Willem Moolman.

ʼn Trotse pa koop vir sy dogter ʼn motor, voeg dit by sy eie polis sodat dit teen diefstal en skade verseker is en neem swaar afskeid wanneer sy wegry om elders te gaan studeer of werk.
Die versekeraar het die risiko aanvaar en die pa, wat in Port Elizabeth woon, is tevrede dat hy sy plig gedoen het en dat niks kan skeefloop nie.

Maar ná ʼn ruk word die kind se motor in Kaapstad gesteel en die versekeraar skop vas toe ʼn eis ingedien word aangesien die besonderhede op die polisdokument nie met die eis-inligting strook nie.

Ten eerste is die risiko-adres in PE en nie in Kaapstad nie, wat ’n wesenlike verskil maak. In dié geval sou die premie hoër gewees het as die adres in Kaapstad was en het die pa dus nie die regte premie betaal nie.

Boonop het die dogter, sedert die versekering uitgeneem is, klaar gestudeer en reeds begin werk. Die motor was ook teen hierdie tyd in haar naam geregistreer en klaar betaal.

Die noodsaaklike “versekerbare belang”, soos dit genoem word, tussen die pa en dogter was dus in die gedrang.

Daarby het die motor se registrasiedokument weggeraak. Die versekeraar móét die oorspronklike registrasiesertifikaat hê as ʼn motor gesteel of afgeskryf word (om ʼn duplikaat te bekom, kan tot ses maande duur).

Sulke probleme ontstaan gewoonlik omdat mense nie ten volle bewus is van wat hulle moet doen nie. 

In hierdie geval moes die versekeraar onmiddellik van die verandering van die dogter se adres in kennis gestel gewees het asook dat sy nie meer studeer nie.

Die versekering moes verder ook uitgebrei gewees het sodat die dogter ingesluit kon word om aan die voorwaardes van versekerbare belang te voldoen.

Mense wat korttermynversekering van dié aard uitneem, moet sekere maatreëls in gedagte hou om te verhinder dat hulle in denkbeeldige slaggate trap.

Die oorspronklike registrasiesertifikaat moet beskikbaar wees wanneer ʼn motor gesteel of afgeskryf word. Maak dus seker jou belangrike dokumente word veilig bewaar – en dat jy wéét waar hulle bewaar word.

Jy moet álle inligting verstrek wat die risiko kan beïnvloed. Die betrokke wet vereis dit. Verskaf eerder te veel inligting as te min as jy twyfel oor wat verlang word.

As jou kind elders gaan studeer of werk en nie meer in die ouerhuis woon nie, verklaar die nuwe adres.

As jy nie meestal self die versekerde voertuig bestuur nie, verskaf die besonderhede van die gereelde bestuurder. Indien dit vir sakedoeleindes gebruik word, moet jy seker maak dat dit sodanig verseker is.

Wanneer jy verhuis, laat weet die versekeraar dadelik daarvan en verskaf die nuwe adres. Dis ook verstandig om die versekeraar van byvoorbeeld duur skilderye of grasdak-lapas in te lig.

Laastens, maak seker jou veiligheidsmaatreëls voldoen aan alle vereistes en dat die versekeraar presies weet watter maatreëls bestaan.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.