Sonder die hulp van ʼn bekwame finansiële beplanner kan min mense hul geldsake vorentoe orden, skryf Pieter Willem Moolman.
Hulle word soms polissmouse genoem en vir party is hulle ʼn ergernis. Die dienste van knap finansiële beplanners is egter onontbeerlik wanneer mense hul toekomstige geldsake in oënskou neem.
Dis seker waar dat enkeles die bedryf se naam skaad, maar dit gebeur in elke bedryf. Daar is swak bouers, swak rekenmeesters en swak diensverskaffers oral.
Mense kom egter gou agter op wie hulle kan peiltrek en so loop die swakkes gewoonlik hul rieme styf.
Almal wat hul geldsake beplan, behoort ten eerste seker te maak dat hul afhanklikes finansieel onafhanklik sal wees as die broodwinner onverwags sterf.
ʼn Mens kom dikwels mense teë wat finansieel swak nagelaat is. Om so iets te vermy, is voldoende lewensdekking gewoonlik die beste antwoord. Maar hoeveel is voldoende?
Daardie vraag het geen eenvoudige antwoord nie en diegene wat op hul “gut feeling” vertrou, slaan gewoonlik die bal ver mis.
Enigiemand wat sy of haar geldsake agtermekaar wil kry, het ʼn knap finansiële beplanner nodig om deeglike boedelbeplanning te doen en so die behoefte aan lewensversekering te bepaal.
Jou versekering moet genoeg wees om jou boedel sinvol te beredder. Dit sluit onder meer eksekuteursgeld, kapitaalwins en boedelbelasting in.
Die behoefte aan lewensversekering neem partykeer af namate mense ouer word, hul bates toeneem en die kinders selfversorgend raak.
Ek het onlangs te doen gehad met ʼn man wat ʼn vrou en drie minderjarige kinders het en gemeen het dekking van R2 miljoen is genoeg. Indien hy iets moes oorkom, sou sy afhanklikes egter beslis harde klippe gekou het.
Liggaamlike of geestelike ongeskiktheid kan eweneens ʼn gesin finansieel ruïneer; dikwels in ’n groter mate as die dood. Deur ondervinding leer ʼn mens dat voorsiening vir ongeskiktheid en trauma gewoonlik ver te kort skiet.
Min mense dink ooit daaraan dat hulle op die een of ander manier ongeskik kan raak. Myns insiens behoort finansiële beplanners dié aspek te beklemtoon, veral wanneer hulle jonger mense met raad bystaan.
Lewensdekking word dikwels oorbeklemtoon, ten koste van ongeskiktheidsdekking. Ook in dié opsig speel finansiële beplanners ʼn belangrike rol: hulle moet seker maak jou inkomste is ten volle beskerm as jy tydelik ongeskik raak of ernstig siek word.
Dié maatreëls word gewoonlik siektedekking of inkomste-beskerming genoem. Ongelukkig is dit nie iets wat jy oor ʼn toonbank kan koop nie.
Jy móét ʼn goeie finansiële beplanner raadpleeg; iemand wat kan seker maak jy kry die regte produk vir jou behoeftes.
Dié soort beskerming is veral nodig vir professionele mense en diegene met hul eie ondernemings.
Die taak van ʼn finansiële beplanner hou nie by die verskaffing van advies oor lewens- en ongeskiktheidsdekking op nie. Een wat sy sout werd is, sal jou ook met aftreevoorsiening bystaan.
Dis ʼn uiters belangrike saak, want net drie uit elke honderd mense kan finansieel onafhanklik aftree. Die antwoord op die vraag oor hoekom dit gebeur, is eenvoudig: die meeste mense spaar te min en begin te laat spaar.
Afhangende van jou omstandighede, moet die beplanner seker maak jou spaarplanne bied optimale opbrengste en jou geld word in die regte bateklasse belê. Aftreevoorsiening is egter ʼn onderwerp op sigself en ons kan in ʼn latere stadium meer aandag daaraan gee.
Moeilike besluite soos ons hierbo aangeraak het, laat mens besef wat ʼn finansiële beplanner se werk behels en daarom is dit so belangrik om ʼn kundige se dienste te bekom.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.