Onsekerheid bestaan dikwels oor die kwessie van ʼn bybetaling wanneer ʼn versekerde weens iemand anders se fout in ʼn ongeluk skade ly, skryf Pieter Willem Moolman.

Ons ontvang heelparty navrae oor die terugbetaling van “bybetalings” of “eerste bedrae betaalbaar” waarvoor in versekeringspolisse voorsiening gemaak word. Sulke navrae volg gewoonlik op ʼn ongeluk wat na die versekerde se mening uitsluitlik deur die ander betrokkene veroorsaak is.
In sulke gevalle begryp versekerdes soms nie waarom hul bybetaling nie aan hulle terugbetaal kan word nie. Dit is ʼn natuurlike reaksie, maar dit dui ook daarop dat hulle nie altyd begryp wat “bybetaling” presies behels nie.

Ons het daaroor by die Ombudsman vir Korttermynversekering gaan kers opsteek en insiggewende gegewens bekom.
 
Die term “bybetaling” beteken dat die versekerde, wanneer hy ʼn polis uitneem, daartoe instem om ʼn sekere deel van ʼn moontlike verlies self te dra.

Daar is verskeie soorte bybetalings. Die bepalings hang af van die betrokke omstandighede, die aard van die verlies, die ouderdom van die versekerde, ensovoorts.

Maar in wese het bybetalings almal dieselfde kenmerk, naamlik dat die versekerde – kragtens die polisskedule – in der waarheid glad nie vir die bepaalde bedrag verseker is nie.

As die versekerde weens iemand anders se fout of nalatigheid skade ly, het hy die reg om daardie persoon te dagvaar om die bybetaling te probeer verhaal, maar hy of sy kan nié die versekeraar dwing of verplig om die verlies van die bybetaling te probeer terugeis nie.

In die meeste gevalle sal die versekeraar sy eie kapitaaluitleg probeer terugeis. Dit is die bedrag wat hy moet uitbetaal aan sy kliënt wat die skady gely het.

Die prosedure wat gevolg word, is gegrond op ʼn leerstelling wat as subrogasie bekend staan. Dit is die versekeraar se reg om in die naam van die versekerde stappe teen ʼn derde party te doen om die koste te probeer verhaal.

Omdat die versekeraar in elk geval die derde party namens die versekerde dagvaar, kan die bybetaling waarvoor die versekerde aanspreeklik was, by sodanige eis getel word.

As die versekeraar daarin slaag om die volle bedrag van die derde party terug te kry, sal die versekerde se bybetaling aan hom terugbetaal word.

Dit is gewoonlik tot voordeel van die versekerde as hy as ’t ware op die versekeraar se rug kan ry wanneer regstappe teen die derde party ingestel word, want dan hoef hy nie die risiko van regskoste te loop nie.

In ruil daarvoor sal die versekeraar waarskynlik daarop aandring dat die versekerde moet aanvaar dat hy (die versekeraar) die reg voorbehou om te eniger tyd die stappe teen die derde party te laat vaar. Die versekeraar mag ook die eis na goeddunke skik.

ʼn Mens moet ook in ag neem dat die versekerde slegs sy bybetaling sal terugkry as die versekeraar daarin slaag om nie net sy eie kapitaaluitleg te verhaal nie, maar alle koste wat hy aangegaan het, asook die bybetaling. In die praktyk gebeur dit selde dat die versekeraar al sy onkoste verhaal.

Mense wat versekering uitneem, moet begryp dat die versekeraar nie verkeerd of oneties optree as hy nie namens hulle ʼn bybetaling van ʼn derde party probeer terugeis nie. As die versekeraar besluit om nie regstappe teen die derde party in te stel nie, verhinder niks die versekerde om dit self te doen nie.

Die Hof vir Klein Eise bly steeds ʼn opsie as iemand ʼn eis teen ʼn derde party wil instel, solank die bedrag kleiner as R7 000 is.
 
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.