Om ’n onderneming suksesvol te bedryf verg harde werk, sakevernuf en ’n goeie aanvoeling vir die bedryf waarin jy jou bevind – om nie eens te praat van ’n goeie skoot geluk nie, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.
Omdat sake maklik verkeerd kan loop, sal ’n goeie sakeman homself teen onverwagte gebeurlikhede beskerm deur slim versekeringsbesluite met die hulp van ’n kundige korttermynmakelaar te neem.
In hierdie rubriek wil ek kortliks na die verskillende soorte versekering kyk wat jou onderneming teen sodanige insidente kan beskerm.
Die mees algemene tipe is brandversekering, wat die inhoud van die perseel dek teen skade wat deur vuur, weerlig, ontploffings, storms, wind en water veroorsaak word.
Daar is spesiale uitbreidings – soos lekkasies, insakking, grondverskuiwing en kwaadwillige beskadiging – onder dié afdeling. Vra jou makelaar vir raad oor die opsies, want dit word nie outomaties ingesluit nie.
Onthou, hierdie tipe verskering is nie van toepassing op die gebou self nie. Dit word gedek onder ’n aparte afdeling wat “geboue omvattend” genoem word.
Rekenaars en ander elektroniese toerusting moet ook verseker word, en word anders gespesifiseer as die bogenoemde inhoudsversekering. Maak seker jou bateregister is op datum en strook met die versekerde items.
Sake-onderbrekingsversekering kan ook ’n belangrike rol in die welvaart van jou onderneming speel.
Die eerste oorweging is of jou onderneming byvoorbeeld ná ’n brand vinnig van perseel kan verskuif en met sakebedrywighede kan voortgaan of nie. Indien dit kan, het jy waarskynlik nie laasgenoemde dekking nodig nie.
Indien jou onderneming egter op ’n strategiese plek is en brandskade sal beteken dat jy vir ’n tydperk min of geen sake kan doen nie, is dié tipe versekering uiters noodsaaklik.
Die eienaar kan verseker word teen brutowins-verliese, lone wat betaal moet word, huurgelde ensomeeer. ’n Makelaar kan jou weereens hierin lei.
Dan is daar versekeringsafdelings wat grootliks van die aard van jou onderneming afhang – indien daar byvoorbeeld groot glaspanele of -vertoonkaste is, is glasversekering noodsaaklik.
Dieselfde geld vir items soos koffiemasjiene, lugreëling, yskaste en selfs kontant wat op die perseel gehou word – enigiets wat krities in die funksionering van jou onderneming is.
Nog ’n uiters belangrike aspek – een wat baie mense al finansieël geruïneer het – is regsaanspreeklikheid. Dis wanneer ’n derde party, lid van die publiek of werknemer skade ly waarvoor jy of die besigheid aanspreeklik gehou kan word.
Die toets by aanspreeklikheid is dat die benadeelde party moet kan bewys dat jy nalatig was. Sulke eise kan maklik miljoene rande beloop, terwyl die versekering daarvoor relatief goedkoop is.
Moet nooit die standpunt inneem dat ongelukke nie met jou kan gebeur nie! Gesels met ’n makelaar wat jou veld verstaan – verkieslik een wat vertroud is met jóú onderneming – sodat hy alle moontlike risiko’s aan jou kan uitwys en verduidelik.
Die onus rus natuurlik op jou om die finale besluite te neem, maar jou makelaar kan verseker dat jy ’n ingeligte een neem.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.