Geskryf vir YourProperty
Inbrekers het oor ’n geëlektrifiseerde grensmuur, wat om ons Property Poser leser se kompleks is, toegang tot haar eenheid gekry.
Ten spyte daarvan dat die lading hierna verhoog is, het die inbrekers ’n week later wéér oor die heining toegang tot die leser se eiendom verkry.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat selfs ná die lading verhoog is, dit slegs nagenoeg 35 persent van die voorgeskrewe lading gedra het.
Sy wil weet of iemand aanspreeklik gehou kan word daarvoor dat die lading nie hoog genoeg was om inbrekers uit te hou nie, aangesien die elektriese heining juis een van die redes was waarom sy ’n eenheid in dié kompleks gekoop het.
Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch sê Artikel 37 van die Deeltitelwet Nr 95 van 1986 beskryf die funksies van die regspersoon as bestaande uit alle eenheidseienaars van ’n deeltitelskema.
“Daardie funksies sluit onder meer die onderhoud van gemeenskaplike eiendom, die betaal van erfbelastings, die versekering van geboue asook die invordering van heffings in.”
Geldenhuys sê dit dek ook die hantering van gemeenskaplike aangeleenthede ooreenkomstig die besluite van die eienaars, byvoorbeeld om ’n sekuriteitstelsel vir die skema te implementeer en in stand te hou.
“Die daaglikse bestuur van ’n deeltitelskema word deur die trustees van die regspersoon (wat tydens die algemene jaarvergadering van die eienaars verkies word) hanteer. Die regspersoon mag ook ’n bestuursagent aanstel om na die administrasie van die skema om te sien,” sê Geldenhuys.
“Daar is sekere besluite wat die trustees nie sonder die toestemming van die eienaars mag neem nie. Die oprig van ’n geëlektrifiseerde heining is ’n voorbeeld hiervan aangesien dit neerkom op ’n verbetering van die gemeenskaplike eiendom.”
Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg sê wat die leser se situasie betref, sou die besluit om ’n geëlektrifiseerde heining op te rig, asook watter firma die monitering en instandhouding daarvan hanteer, op ’n vorige geleentheid deur al die eienaars geneem gewees het.
Van der Merwe sê die trustees sou in daardie stadium kwotasies verkry het vir die oprig van die heining asook vir die maandelikse onderhouds- en moniteringskostes en dit sou aan die eienaars voorgelê gewees het vir ’n besluit.
“Indien dit nou blyk dat die lading waarop hulle besluit het nie hoog genoeg is om inbrekers af te skrik nie, kan ’n eienaar wie skade ly as gevolg van ’n inbraak nie die regspersoon of die trustees aanspreeklik hou vir sy of haar skade nie,” sê Van der Merwe.
“Solank die trustees op ’n bona fide wyse hul take uitvoer en met die beste belang van die regspersoon in gedagte, sal hulle nie aanspreeklik wees vir enige skade wat die regspersoon of ’n eienaar ly wat voortspruit uit enige handeling of besluit wat hulle neem nie.”
Van der Merwe sê as die lading van die geëlektrifiseerde heining inderwaarheid laer is as wat deur die kontrakteur voorgegee was, of waarvoor gekwoteer was, sal die regspersoon die kontrakteur kan aanspreek om die werk ooreenkomstig die kwotasie uit te voer.
“Indien die leser kan bewys dat haar skade ’n direkte gevolg is van die kontrakteur se opsetlike of nalatige optrede, sal sy moontlik ’n eis vir skade teen hom kan instel,” aldus Van der Merwe.
“Dit sal egter moeilik wees om ’n verband tussen oorsaak (die handelinge van die kontrakteur) en gevolg (die inbraak) te bewys.”
Stuur jou eiendomsverwante vrae hier.