Baaienaars gaan eersdaags met swaar harte van twee grootse inwoners moet afskeid neem.
En ek wil my verstout om te sê dat ons stad se karakter onomkeerbaar gaan verander met Domino en Dumisa se vertrek na blouer waters.
As iemand wat hier gebore en getoë is, sal die skooluitstappies na die oseanarium en museum – soos dit in daai dae genoem is – my altyd bybly.
Ek onthou nog hoe D & D se voorsate ons met hul dolfyntoertjies bederf het, en die reusagtige dinosourusse en ewe groot walvisgeraamte waaraan ek my vergaap het.
In my geestesoog sien ek ook steeds hoe ons – op ’n veilige afstand – grootoog toekyk terwyl Nimrod giftige slange in die aangrensende slangpark vang en hulle daarna “melk”.
Daarnaas het die Tropiese Huis ’n betowering van sy eie gehad. Ek kan nog amper die klamheid, en reuk, van dié eertydse planteparadys aan my lyf voel.
Dan was daar ook die gesinsuitstappies oor naweke en in vakansietye wat altyd met plaatkoekies en skons in die teetuin geëindig het.
Maar dis mos maar hoe die mensdom is: ons besef nie wat ons het totdat ons dit verloor nie. Want wanneer laas was jy by die oseanarium?
Die dag wat bogenoemde tweetjies vir oulaas sierduike doen voor hulle die vliegtuig Hong Kong toe bestyg – one way – sal die paviljoen by Bayworld sekerlik volgepak wees.
Maar waar was ons toe een van die Baai se grootste toeriste-aantreklikhede swaar getrek het? Kon ons werklik nie meer gedoen het om hulle te help om kop bo water te hou nie?
Maar nou is die dolfyne verlore – vir minstens ’n generasie, want daar word gesê dat van hul nageslagte dalk eendag mag terugkeer.
Hul vertrek, maar bowenal die meegaande verval in karakter, is myns insiens ’n groot knou vir die stad – veral met 2010 wat wink. Die toeriste kom nou wel vir die sokker, maar wat gaan hulle laat terugkeer?
Die oseanarium is nie die enigste van Port Elizabeth se skatte – mens kan amper sê karaktertrekke – wat ons besig is om soos sand deur ons vingers te laat glip nie.
Die Appeltrein het ondanks baie teenspoed weer stoom in sy groen lokomotiewe, maar net met die ondersteuning van die publiek sal hy tot in die nageslag bly voortstoom.
Met die ekonomie wat knyp en brandstofpryse wat mense twee keer laat dink voor hulle die langpad aandurf, is die tyd dalk nou ryp om weer toeriste in ons eie stad te word.
Misdaad het ons destyds uit die geskiedkundige middestad uit verdryf, maar dié juweel word die afgelope tyd pragtig gepoets.
Die Operahuis is pas opgegradeer en die hoofbiblioteek met sy sierlike vensters word nou opgeknap. Daar is ook sprake van ’n splinternuwe wandelroete tussen dié en ander besienswaardighede.
Parliamentstraat, of ten minste dele daarvan, spog ook reeds met ’n nuwe baadjie. Nogal in die styl van Europese straatkafees.
Miskien moet ons weer plekke soos Castle Hill nommer sewe en die Campanile – as dié nog oop is – besoek. Vir ons kinders en hulle s’n.
Want hulle sê mos charity begins at home.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited