’n Gholfjoggie het ’n uiters belangrike amp.
Behalwe vir stokke dra, is hy ook assistent, raadgewer, motiveerder en kameraad.
Dis nie sommer ’n hierjy-mannetjie wat jy op ’n slegte dag optel sodat hy met die tweede nege die bordjies kan help verhang nie.
Tiger Woods se jarelange joggie en vertroueling, Steve Williams, spandeer byvoorbeeld baie ure voor groot toernooie op die baan om met elke hoek en draaitjie vertroud te raak.
Maar anders as die miljoendollar-manne van die PGA-reeks, moet die plaaslike spelers maar vat wat op die dag beskikbaar is. Ten minste is dié joggies darem gewoonlik baie handig met sakke dra en verlore balle opspoor.
Op dieselfde naweek wat Gary Player sy laaste Meesters op Augusta gespeel het, het my vriend, wat ’n kranige gholfspeler is, besluit dis weer tyd om sy stokke (na ’n lang hiatus weens ’n handoperasie) af te stof.
Die plaaslike klubkampioenskap was om die draai en met dié vooruitsig as ekstra motivering, was hy en drie vriende vroeg die afgelope Paas-Sondag reeds op die baan.
Dit was stil en die môreson het nog plek-plek deur die boomtoppe gebreek. Die setperke was blink gedou.
Om sy terugkeer so suksesvol moontlik te maak, het hy toe sommer vir hom ’n joggie van die gholfklub se stoep af gekies. Ene Gert het trou en motivering beloof vir die groot dag wat voorgelê het.
Die eerste drie gate het maar oes gegaan, want my vriend se hand was nog effens styf. Sy entoesiasme was egter onwrikbaar.
Die vierde putjie verg deeglike beplanning en ’n goeie strategie. Dit lê langs die rivier, kompleet met ’n dog leg, hoë bome en ’n steil afdraand voor die pen.
Almal was aan die beplan, konsentreer en raadgee. Net Gert was stil.
Sy oë, wat skielik so groot soos gholfballe was, was gerig op twee polisiemanne en ’n joggie wat reguit na die vierbal toe aangestap gekom het.
“Is jy Gert Coetzee?” het die lange vir Gert gevra.
“Ja Meneer,” het hy geantwoord en swaar gesluk.
“Dan moet jy maar saamkom,” het die korte gesê. “Jy word van gansdiefstal aangekla.”
Ou Gert het toe glo na bewering die vorige aand – ná ’n kuier in die sjebien – by die buurman se hoenderhok ingebreek en ’n gans gegaps.
Sy pet het egter in die hok agtergebly en dié nalatigheid het die volgende oggend tot sy inhegtenisname gelei. Dit en die feit dat hy vroeër aan sy joggie-kollegas vertel het hoe lekker hy die vorige aand aan ganslewer gesmul het.
Die lang polisieman het vir my vriend verskoning vir die ongerief gevra en die nuwe joggie as troosprys aangebied.
So, danksy ou Gert se gansdiefstal, kon my vriende darem daai dag oor ’n soort geveerde gedierte praat, want van ’n voëltjie of arend was daar verder geen sprake nie.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited