As jy gedink het tuinmaak is net vir dié wat al ’n bietjie lank in die tand is, moet jy gerus weer dink en ’n draai by die jaarlikse Sherwood Garden Centre se lentefees – wat van 17 tot 26 Oktober in die Baai plaasvind – maak.

Karen Scott, Malanseuns se Oos-Kaapse verteenwoordiger, wat ook ’n gasspreker by die fees gaan wees, sê dis wonderlik om te sien hoeveel meer jongmense deesdae in tuinmaak belang stel.

Sy sê dit is ’n fantastiese stokperdjie en die ideale teenvoeter vir eksamenspanning!

Benewens Suid-Afrika se bekroonde Chelsea-blommeskou-uitstalling – wat die hoogtepunt van die fees is – sal daar ’n wye verskeidenheid tuinuitstallings en aktiwiteite vir jonk en oud wees, sê Carmel Wolf van Sherwood Garden Centre.

Volgens haar is dit lekker om te sien hoe die jonges by tuinbou betrokke wil wees. Laerskool Lorraine gaan ’n tuintjie vir die fees uitlê en die Hoërskool Pearson se kuns-leerders gaan hoede met die tema “The Heat is On” – wat ook die tema van die Chelsea-uitstalling is – uitstal.

Studente van die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Universiteit was betrokke by die ontwerp van die feesstalletjies. Wolf sê stalletjies sluit erdwurms, tuindambehandeling, sintetiese gras, mosaïek, plaveisel, tuinsorg en aquaponics in.

Nog ’n nuutjie op die program is ’n lyfverf-demonstrasie deur NMMU-kunsstudente. Hulle sal besoekers van 9vm tot 1nm op Saterdag 25 Oktober met hul talente vergas.

Wolf sê besoekers sal die kunswerke se vordering van die eerste tot die laaste kwashaal kan dophou. “Ná die modelle se lywe klaar geverf is, sal hulle met bykomstighede getooi word en dan deur die kwekery paradeer.”

Sy sê die Oos-Kaapse radioreus Algoa FM sal ten tyde van die fees twee buite-uitsendings van die terrein af doen. Lance du Plessis sal van 9vm tot 12nm op Saterdag 18 Oktober en Charl Leslie van 9vm tot 12nm op Sondag 19 Oktober uitsaai.

Volgens Doug Pudney van Frontier Events, wat agter die skerms help om die lentefees te koördineer, sal daar letterlik iets vir almal wees.

Volgens hom sal daar kindervermaak (wat gesigverf, hansworse en ballonne insluit) oor die naweke wees. Die Khoisan-teetuin en ’n koffiekroeg in die hoofgebou sal deurgaans ook oop wees.

Pudney sê toegang en parkering is gratis, so jongmense het geen verskoning om hierdie skouspel mis te loop nie.

Die lentefees sal daagliks tussen 8.30vm en 5nm oop wees. Vir meer inligting, bel Carmel Wolf by 074 179 5955.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

Sherwood Garden Centre

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management