Dit was so skuins na vyf toe die eerste druppels, hael en donderweer die stilte gebreek het.

En dadelik was ek diep dankbaar vir die boere en my petunias. Dit was een van daai oggende wat van die begin af soos naweek gevoel het – tot ek besef het dis eintlik Woensdag en my eerste vergadering is net na agt aan die anderkant van die stad.

Terwyl ek so in die holte van my bed lê, wonder ek of die ander motoriste al oor hul vrees vir reënbestuur gekom het. Want, hoe dit werk, weet ek nie, maar as die pad nat is – selfs net effens – is die gort gaar.

Op gewone oggende hou bestuurders en passasiers hulself besig met ’n swetterjoel “normale” kar-aktiwiteite.

Dis wanneer jy mense sien sit en dans of dromme op die dashboard speel; blondines met wilde krulle a mini makeover in die tru-spieëltjie doen; en skoolkinders nog aan huiswerk spoeg en plak.

Maar as dit reën, maak dié normale oggendgoed – soos droë Rice Krispies in koffiebekers omdat daar nie tyd vir behoorlike ontbyt was nie – plek vir ’n reis waarvoor jy beslis jou sitplekgordel moet vasmaak.

Mense weet nie of hulle kom of gaan nie. Dis asof die nattigheid hul sintuie bedwelm, want hoor of sien kan vergaan terwyl die donkerkop voor my in die interseksie talm.

Om sout in die verkeerswonde te vryf, raak verkeersligte ook gewoonlik bedot wanneer die eerste windscreen wipers water begin wegvee. Die dametjie op die radio sê dat mense asseblieftog die interseksies soos vierrigtingstopstrate moet hanteer.

Met die brunet wat steeds talm, dink ek sy luister seker na ’n ander radiostasie. Of dalk word haar stopstraat-geheue soos dié van omtrent negentig persent van motoriste saam met die stormwater weggespoel see toe.

Reënbestuur herinner baie aan die eerste twee bestuurslesse wanneer jy nie weet waar om te vat of te trap of te los nie.

Die versigtige donkerkop het uiteindelik gedraai gekry. ’n Reuse persoonlike oorwinning.

Ek moet bieg dat vanoggend se reën erger as die gemiddelde buitjie is en oral begin die water al opdam en party van die systrate herinner aan klein riviertjies.

Dis swartsakdag op my roete en party van die swartsakke draai ook links met die stroom af by die volgende (dooie) robot.

Ek stop. Dis my beurt om te stop. So ek stop. Ek wag vir my beurt, maar dit kom nie.

Vanuit die digte mis verskyn daar ’n ou man op ’n swart fiets. Die water maak indrukwekkende vere van die speke af.

In die middel van die interseksie gooi hy altwee sy hande in die lug, kyk hemel toe en skree uit volle bors: “Halleluuuuujaaa”. Ek wonder of hy innig dankbaar vir dié oorvloedige gawe is, want, ná ’n lang, droë winter is die reën beslis ’n lafenis en my hart sing ook saam.

Op kantoor vertel ek vir my kollega van die halleluja-man en sy meen dit is dalk ’n tuinman wat bly is hy hoef nie buite in dié reën te werk nie.

Gefnuik deur die werksdak oor my kop, wens ek eensklaps dit is Saterdag en nie “Klein Saterdag” nie. Want dié is mos nie weer vir werk nie!

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management