Baaienaars kry eersdaags die seldsame geleentheid om Suid-Afrika se bekroonde Chelsea-blommeskou-uitstalling by die jaarlikse lentefees van die Sherwood Garden Centre te sien. Dié fees vind van 17 tot 26 Oktober plaas.
Eerste Nasional Bank (ENB) en die Sherwood Garden Centre, in samewerking met Die Burger, sorg dat dié blommeskouspel in Nelson Mandelabaai kom anker gooi.
Die uitstalling, wat deur Kirstenbosch se botaniese tuine ontwerp is, het vanjaar sy 29ste goue medalje en die Royal Horticultural Society se presidentsprys vir die mees kreatiewe uitstalling by die Chelsea-blommeskou in London gewen.
Dit is die tweede jaar dat die Sherwood Garden Centre – as deel van sy lentefees – gasheer vir die Chelsea-uitstalling is. “Behalwe vir die uitstalling, moet mense hulself ook gereed maak vir ’n tuinervaring sonder gelyke,” sê Carmel Wolf van die Sherwood Garden Centre.
Volgens haar is hulle baie trots en opgewonde om weer die uitstalling hier te ontvang. “Mense het dit verlede jaar vreeslik geniet en ek dink dit gaan vanjaar selfs meer aftrek kry.”
Brett Erasmus, hoofbemarker vir nissegmente van ENB, sê Port Elizabeth is die laaste stop op die uitstalling se plaaslike toer. Dit was ook in Gauteng, Pietermaritzburg en Kaapstad te sien en is ’n presiese replika van die Chelsea-uitstalling.
Erasmus sê ENB ondersteun hierdie trots Suid-Afrikaanse-uitstalling reeds vir ses jaar.
“Die uitstalling is ’n wonderlike ambassadeur vir ons land. Dit wys ons plantverskeidenheid aan die buitewêreld, terwyl dit ook plaaslike tuiniers se aandag op ons ryk flora-erfenis vestig.”
Vicki Rothman, Oos-Kaapse hoof van publisiteit by Die Burger, sê hulle is baie opgewonde om die amptelike mediaborg van die lentefees te wees. “Dit skep ’n wonderlike geleentheid vir ons lesers om deel van hierdie eiesoortige gebeurtenis te kan wees.”
Dr. Tanya Abrahamse, hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut (Sanbi), sê hulle is met reg baie trots op die jarelange suksesverhaal van die uitstalling.
Sy sê Suid-Afrika se flora is van onskatbare waarde vir eko-toerisme. Volgens haar het die Kaapse plantekolonie die hoogste digtheid van plantspesies ter wêreld met meer as 9 000, waarvan 70 persent nêrens anders op aarde te sien is nie.
Volgens Doug Pudney van Frontier Events, wat agter die skerms help om die lentefees te koördineer, sal daar letterlik iets vir almal wees.
Hoogtepunte sluit klein tuine deur plaaslike tuinboukundiges, ’n lyfverf-demonstrasie en modeskou deur studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, praatjies deur plaaslike en nasionale tuindeskundiges en ’n legio stalletjie in.
“Toegang en parkering is gratis, so mense het geen verskoning om hierdie skouspel mis te loop nie,” sê Pudney.
Die lentefees sal daagliks tussen 8.30vm en 5nm oop wees. Vir meer inligting, bel Carmel Wolf by 074 179 5955.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Sherwood Garden Centre
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management