Dit hét al met jou gebeur en dit gaan wéér – die ervaring om jou naam met die spreekwoordelike plank te slaan.

Die verloop van die lewe noop ons om wanneer ons val – met romp om die skouers, geskeurde broek of beskadigde ego – weer op te staan en die omstanders met ’n geforseerde glimlag te laat glo dit was nie so erg nie. Die ergste skaamte word in die naaste badkamer met koue water van jou gesig af gespoel.

Dié plankslaan-oomblikke kan in kategorieë verdeel word.

Die eerste is wanneer jy ’n slagoffer van omstandighede is en slegs ’n ondersteunende rol in jou eie verleentheid speel.

Dis nou soos wanneer jy die trap tydens die jaareindfunksie mistrap terwyl jy die verhoog bestyg; die ellendige stoel wat net vir jóú gewag het vir sy swanesang-sit; die glibberige skoonmaakmiddels op die winkelvloer wat tot allerlei ongewenste situasies kan lei; en die laatnag-reply op jou vuurwarm sms aan jóú Sonja wat net sê: “Dis Sonja, jou ma se vriendin”.

Dan is daar kere waar jy beslis die hoofkarakter is en eiehandig verantwoordelik is vir die ongewenste situasie waarin jy jou bevind.

Hieronder tel die dag toe ek, ’n entoesiastiese nuwe onderwyser, soos NP van Wyk Louw se literêre aapmens, Raka, in ’n gehuurde aappak op my gr.11-klas afgestorm het om hulle opgewonde te probeer kry oor die literatuur wat ons gaan behandel, en hulle my toe net verstom aangestaar het.

My besluit om in te stem om ’n hele gemeente met klavier te begelei tydens voorsang nadat ’n tannie my toevallig “Stuur groete aan Mannetjies Roux” – my volle, en ek bedoel my volle, repertoire – gehoor speel het, is nog ’n wenner.

Twee weke later sit negehonderd mense my en aanstaar omdat ek “Stille Nag” soos Mannetjies Roux laat klink en ek wonder hoe ek as nugterdenkende so onverantwoordelike ding kon aanvang!?

Die derde kategorie is ’n kombinasie van die eerste twee. Dít het my so paar weke gelede oorgekom toe ek aan die Ro(c)k ’n Taal-musiekskouspel gewerk het en kostuums vir die meisies moes gaan uitsoek.

Ek het verward tussen die einde-van-die-maand-massas rondgehardloop op soek na rompe, rokke, bloese, krale en skoene. Baie selfbewus, het ek op die einddoel probeer fokus eerder as hoe ek met allerhande vroue-goed in my hande vir omstanders moes lyk . . .

Ma’s en hul dogters wat met geligte wenkbroue in my rigting beduie het, het ek summier geïgnoreer. Ook die winkelassisstent se vraag-opmerking: “Meneer, is u seker oor die grootte . . .”

My poging om van die show te verduidelik, word met ’n alomwetende glimlag begroet en ek kan haar gedagtes lees: “Toemaar, jou geheim is veilig . . .”

Openingsaand breek aan en ek, nou ’n kenner van vroueklere én hul groottes, is trots op my kopies wat nie – besef ek toe die gordyne oopgaan – ’n spesifieke satynskoen vir een van die dansers insluit nie . . .

Die volgende oggend voor ek behoorlik wakker is, staan ek reeds in ’n skoenwinkel om ’n gepaste skoen te soek. Die verkoopsdame probeer my oortuig dat ’n nommer vier nie gaan pas nie en ék háár dat dit nie vir my is nie.

Toe ek sê dis vir ’n vertoning, wil sy opsluit visnetkouse, hoëhakskoene (“Ons het ongelukkig net nie groter as nommer agt vir jou nie, my sweetheart . . .”), ’n nuwe soort lipstiffie, ’n pruik en ’n tiara ook aan my afsmeer.

Sy klink genuine opgewonde oor my show en wil die wie-wat-waar-wanneer-en-hoe weet, want een van haar mansvriende is ook glo in “dié bedryf” en maak “goeie geld . . .”

Ek lag benoud, betaal vir die skoene en maak twee rye spore, steeds besig om uit te pluis hoekom sy dink ek vroueklere sou wou aantrek.

Die antwoord tref my tussen die oë, of eerder, sít op my oë, toe ek in my tru-spieëltjie kyk – want daar sit die vorige aand se verhooggrimering nog vir almal om te sien . . .

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management