Die troumars begin speel en die wasige bruid stap bewend aan haar pa se arm in die paadjie af. Dis haar mooiste dag . . .

Maar die vet weet, agter elke droomdag skuil daar gewoonlik ’n magdom klein jakkalsies en uit die aard van my werk, het ek baie keer die (soms twyfelagtige) voorreg om in die voorste gestoeltes te sit wanneer dié stories ontvou of oorvertel word.

Soos Vanessa wat opgetof vir haar groot dag en oomblik was. Die seremonie en onthaal sou op ’n fancy gasteplaas buite die stad plaasvind.

Haar pa, wat die troukar bestuur het, was ingeskakel op Radio 2000 om die Proteas se krieketwedstryd te volg.

Effens oorweldig deur die blote feit dat trou nie perde koop is nie, het sy later vir haar pa gesê dat sy redelik senuagtig is. Hy was doodkalm en het haar verseker dat sy moet ontspan, want “Die Proteas gaan beslis wen . . .”

In ’n onverwante, redelik bisarre voorval, moes die gasvrou ’n skottel seepwater nadersleep en soos ’n diensmeisie van ouds ’n jong bruidjie se meer as afwit-rok was.

Die bruid het haar blommemeisie gevra om haar sluier ná die seremonie uit te haal en klein wit blommetjies in te druk waar dit in haar hare met kammetjies, knippies en haarsproei vasgemessel was.

Om dié takie te verrig, het hulle diskreet om ’n hoekie verdwyn en is die bruid op ’n snikhete Desemberdag op ’n wit plastiekstoel in die tuin sitgemaak.

Die vriendin, in haar grasgroenskepping met die lang moue (die moue is die vorige aand inderhaas aangewerk omdat sy die vorige dag gaan perdry en haar bo-arms die ene blase gebrand het), het rustig met die haarherrangskikking begin.

Maar, onheil – in die gedaante van ’n Maltese poedel – het in die tuin geskuil. Uit die bloute draf die poedeltjie toe tot langs die bruid en lig sy kort beentjie netjies terwyl die onderkant van haar rok plek-plek geel word.

En van kleur gepraat: die hele reënboog is soms ter sprake wanneer paartjies (eintlik die bruid of aanstaande skoonma) die kleurskema vir die troue kies. Wat ’n eenvoudige keuse behoort te wees, ontaard oornag in ’n wetenskap of familietwis.

Dis dan wanneer diskrete verskuilde beledigings – “Uh huh, ja, lemmetjiegroen en pienk, dis baie ongewoon” – aan die orde van die dag is.

Die “gevolg” is ook gewoonlik ’n interessante groepie om (beslis van ’n veilige afstand af) dop te hou.

Die tantes het spesiaal hul Elna’s laat diens om dié lotjie – die mooi blonde tweeling-niggies van Kimberley inkluis – se skeppings aan mekaar te flans. Die kleurskema is teal (wat eintlik maar net ’n skakering van gangrene is) en brons.

Al wat die lede van die gevolg moes doen, was om elkeen ’n paar brons skoentjies te koop en hul mates te stuur, want die rokke word gemaak sodat almal – van die niggetjies tot die bruid se oorgewig oujongnooisuster – in dieselfde kleur en patroon met drie valle getooi kan wees.

En op dié manier word al die mooiste niggies in die familie “opgebruik” as strooimeisies – tot hulle so sewe jaar oud is en dan moet hulle eers weer wag vir die tweede vlaag, hier van vyftien af.

Met ons hemelhoë egskeidingsyfer, is tafelbeplanning deesdae ’n veel groter uitdaging en soms moet die arme bruid en bruidegom uitgelewer en alleen aan ’n klein tafeltjie aansit sodat die geskeide-weer-verloofde-of-verliefdes elders, ver uitmekaar, kan sit om die vrede te bewaar.

’n Vriend van my se dogtertjie was die ander dag met afgryse vervul. Sy was die strooimeisie op haar ma se troue en kry ook nou weer ’n kans met haar pa se tweede (die kleurskama is darem ’n redelik gangbare wit-en-silwer).

Sy wil vreesik graag een van haar maatjies nooi om dié glanstaak saam met haar te verrig, want “shame” het sy gesê, haar maatjie was nie eens ’n strooimeisie by haar eie ma se troue nie!

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management