Ek het iewers gelees daar is ’n fyn balans tussen alles in hierdie lewe en dat die verskil tussen twee opponerende pole bitter klein kan wees.

Hoewel ek nie meer kan onthou wie dié insiggewende woorde geskryf het nie, het dit onlosmaaklik deel geword van my daaglikse waarnemingsproses asook my eie optrede.

Ek het tot die besef gekom daar is ’n onsigbare lyn wat alles skei – soos byvoorbeeld die idee van goed en sleg. Voorbeeld: dis goed dat jy jou kind wil beloon vir uitstekende prestasies, maar sleg as hy net vir jou, en nie sy eie, goedkeuring werk nie.

Net so verdeel dié lyn waar en onwaar, opregtheid en valsheid, briljantheid en kranksinnigheid – noem maar op. En dit is bitter eenvoudig om soms oor dié onsigbare lyn te struikel en jou in die grys area tussen twee uiterstes te bevind.

Ook in die werksmilieu is daar ’n fyn, fyn balans wat gehandhaaf moet word. Soos byvoorbeeld om korrek of té korrek op te tree en om vinnig of té vinnig te werk.

My ouma het hoeka gesê alles wat deur die woord “te” voorafgegaan word, is gewoonlik verkeerd. Sy het geglo die geheim is om in alles wat jy doen, ’n balans te vind.

Ek is natuurlik een van die grootste sondebokke, want voor ek my tweede koppie koffie van die oggend agter die blad het, het ek klaar (weer) van die wa afgeval; hel my weegskaal gevaarlik oor na die een kant toe – juis omdat ek te maklik van die alternatief vergeet, en die rede hoekom daar ’n alternatief is.

Daarom het ek hier aan die begin van die lente vir myself gesê: Pieter, dis nou back to basics vir jou. Jy moet ’n bietjie balans vind, ou. Dit is immers ’n keuse wat jy kán maak.

Só lyk my plan:

Groet jou kollegas vriendelik. Tree só op dat jou kollegas jou vriendelik wíl groet;

Moenie kommentaar lewer oor die toestand van jou kollega se kantoor nie. Hou jou kantoor netjies;

Wees betyds vir werk. Bly later as dit moet;

Outokrasie maak jou ongewild. Moenie te gewild probeer wees nie;

Lag vir jou nalatigheid soms. Moenie as nalatig bekend staan nie;

Gee jou kollega se pen terug wat jy gou geleen het. Vergewe jou kollega as hy per ongeluk vergeet om joune terug te gee;

Sê jou sê by vergaderings. Diplomasie dui meestal op professionaliteit;

Let op jou taalgebruik. Gebruik jóú taal;

Bou vriendskappe. Vermy alliansies;

Respekteer jou kollegas. Dwing respek af deur jou optrede;

Stel ’n goeie voorbeeld. Volg goeie voorbeelde na;

Bly beskeie na sukses. Beskeie bydraes lei nie tot sukses nie;

Moenie kollegas uitdaag nie. Daag jouself konstant uit;

Wees bewus van die hiërargiese grense in jou werkplek. Drome word slegs waar as jy deur jou eie grense kan breek;

Wees lojaal teenoor jou werkgewer. Lojaliteit is nie al vereiste vir bevordering nie;

Wees baie beslis oor jou standpunte. Wees baie beslis oop vir ander se standpunte;

Wees konsensieus. Kontensieuse gedrag is eenvoudig;

Behou die eenvoud in alle situasies. Onnodige ingewikkeldheid is te ingewikkeld om vol te hou.

Werk aan jou swakpunte. Werk veral aan jou sterkpunte.

Luister na opbouende kritiek. Luister krities na afbrekende woorde.

Behou jou geloofwaardigheid in alles wat jy sê. As kollegas jou woord eers betwyfel, is die enigste waarheid die feit dat als moontlik ’n leuen kan wees.

Wees anders. En bly tog altyd dieselfde;

Gun ander die ruimte om hul persoonlikheid uit te leef. Moenie jou persoonlikheid afdwing nie;

Moenie gaan lê na teleurstelling nie. Moenie op jou louere rus na sukses nie;

Tree met integriteit op. Moet ook nie vir jouself lieg nie;

Probeer altyd die probleem oplos. Verhoed dat jy die probleem raak wat ander moet oplos;

Gee honderd persent vir jou werk. En tweehonderd persent vir jou geliefdes.

Aanvaar die uitdaging om aan die begin van ’n nuwe seisoen, ook jou weegskaal min of meer in die middel te laat balanseer.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management