Mineer Rademeier,
Huurmeu doen ek ansoek vur die pos soos geadverteur innie koerand gustir. Ek beskou meiselv asse ytirs prisuse pirsoon wad trods us op ale aspekde vamei werk.
Angiheg us mei CV?
Só beland dié tipe CV’s gereeld in my in-vakkie by die werk en honderd persent van die keer vorder hulle nooit tot by my personeel-lêer onder die afdeling Moontlike Aanstellings nie. Beslis nie omdat die kwalifikasies nie goed genoeg is nie. Dis die taalgebruik. Punt.
Ek is wraggies beïndruk (so in die stilligheid) dat bogenoemde aansoeker darem ’n koevert gepos kon kry.
’n CV is volgens my, en die graad agt-klas vir wie ek destyds op Stellenbosch Afrikaans gegee het, een van die maklikste dinge om te doen. Die rede is net so eenvoudig soos die formaat!
Daar is só baie voorbeelde in hulpboeke (Laat jou CV vir jou werk of Kry die werk lag-lag) dat dit vreesaanjaend is om te dink watter skade iemand wat so baie foute op ’n CV maak, jou onderneming kan aanrig.
As onderwyser het ek altyd vir my Afrikaanse klasse gesê dat jy die beste kwalifikasies kan hê, die wonderlikste persoonlikheid daarby en selfs die sogenaamde X-faktor (dis mos die nuwe modewoord vir ‘net-net op standaard’ as jy Idols gevolg het), maar as jou CV níé op standaard is nie, sal jy nooit die voorreg hê om in ’n onderhoudsituasie jouself as moontlike kandidaat te laat geld nie.
Of hoekom kry ek die gevoel dis net ek wat nog só oor taalgebruik in die werkplek dink?
Daagliks sit ek in absolute verstomming oor die e-posse, briewe en kort notas wat ek lees van mense wat die paadjie van aansoek-doen, onderhoud-bywoon en werkkry al gestap het:
Dit is twee woorde as dit een moet wees; dis omtrent net die onderneming se naam wat reg geskryf is (as jy verby die feit kyk dat die onderneming se naam eintlik kursief is op hul briefhoofde); en kort-kort moet ek opvolg met wie ek werk, want die kontakpersoon se naam verskil van die naam in die e-posadres onder aan (is dit nou Brandon soos hy geskryf het of Brendon soos sy e-posadres lees!?).
Dan hoor ek die afgesaagde stemmetjie in my kop: “Die kinders van vandag kan mos nie spel nie.” Maar, magtig, ek praat hier van die volwassenes van vandag wie se e-posse, briewe en notas ek lees!
Nog snaakser as die verskriklike spel- en taalfoute, is die verkeerde gebruik van uitdrukkings. Halwe begrippe word gemeng om uiteindelik “nuutskeppinge” te vorm wat jou vir weke sal laat lag.
Hier is ’n paar (nogal van gerespekteerde sakemense) wat ek die afgelope tyd onder oë gehad het:
“Met die eerste ooropslag . . . ”
“Ek sal graag saam wil staan een of ander tyd en hieroor gesels.”
“Ons is vinnig besig om ons perseel te ontgrooi. Ek dink jou perseel sal handig te beurt kom.”
“Sal jou graag eerder gesig tot gesig sien.”
(My gunsteling): “Ek hoop nie jou uitsig van my het verander nie.”
Dis heerlike leesstof ná ’n lang dag, maar ek wil eintlik hul base bel en sê dis mos nie aanvaarbaar om sulke skryfwerk die wye wêreld in te stuur nie.
Gelukkig ken ek nog ’n paar ander base en hoofde wat nét so gesteld is op korrekte taalgebruik. Dis goed om dit nog te sien en dit sê vir my iets positiefs omtrent daardie onderneming, skool of instansie as hulle hulself daarop roem dat alle korrespondensie na buite foutloos is.
En ja, ek voel nogal trots as my werknemers vir my ’n e-pos stuur en sê: “Kyk net hoe mooi het ek kanselleer met twee l’e en komitee met een ‘m’ en een ‘t’ gespel.”
Dan onthou ek een van my onderwysers se sê-goed en skryf terug: “Mooi so, maar ek klap nie hande vir basics nie.”
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.