Oos-Kapenaars sal in Junie die winterkoue kan afweer met ’n musiekproduksie wat die hart warm sal laat klop wanneer Jak de Priester, een van die land se voorste Afrikaanse kunstenaars, die provinsie vir ’n reeks van vier konserte besoek.

Hy skop sy toer by die stadsaal op Cradock (13de) af, gevolg deur optredes by Elizabeth Place in die Baai (14de), Potter’s Place op Jeffreysbaai (15de) en die Barkleystraat-teater op Uitenhage (16de).

De Priester gaan vir talle van sy oudste en beste liedjies ’n nuwe baadjie aantrek om dié gunstelinge te laat herleef. “Lottokaartjie in Sunnyside”, “Solly van der Linge” en “Strate van Desember” is onder meer op sy Wintertoer se spyskaart.

“Soos wat ’n sanger nuwe albums vrystel, word van die ouer liedjies dikwels agterweë gelaat,” sê De Priester. “My winterkonserte gaan plekke, mense, reise en die liefde laat herleef.

“Dan is daar ook een liedjie wat ek nog altyd wou sing, maar dis ’n verrassing,” sê hy kripties.

Dié bekroonde sanger en skrywer, wat op Parys in die Vrystaat grootgeword het, het van jongs af al op die verhoog geboer met toneel, sang en voordrag.

Volgens hom het hy tydens ’n vakansie in Europa by kinderteater in Holland betrokke geraak en die Europese teaters het hom geïnspireer om sy eerste eenmanvertoning, Underground, te skryf. Dié produksie het hy in 2002 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer.

Later dieselfde jaar het hy die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging se Crescendo-kompetisie gewen, waarna hy sy debuutalbum, Sally Williams Nougat, opgeneem het. Met dié album het De Priester die Geraas-musiektoekenning as Beste Nuweling verower.

In 2002 het hy ook sy televisie-debuut op SABC2 se Geraas en kykNET se Kwêla gemaak. Verskeie ander televisie-optredes het gevolg, onder meer op Dis hoe dit is met Steve en Die liedjies wat ons ken met Rocco de Villiers.
Hy het ook in die SABC1-televisiereeks Skin Deep sy lyf akteur gehou en die temalied van die sepie Binnelanders geskryf, wat hy ook sing. Sy vierde en jongste album, Stellenbosch Lovesong, is verlede jaar vrygestel.

De Priester skop sy Oos-Kaapse toer af is gaskunstenaar by die Hoërskool Cradock se reünie vir matrieks van 1990 tot 1995. Volgens die organiseerder, Annelie Oosthuizen, sal dit die grootste reünie in die skool se geskiedenis wees.

“Dis ’n belewenis om Jak (de Priester) te sien optree. Hy is uiters vermaaklik en ons is baie opgewonde dat hy ons naweek gaan afskop.”

Sy sê hoewel die konsert op die reünie se program is, kan enigiemand dit bywoon. Oosthuizen kan op 082 396 2053 vir meer inligting gekontak word.

Kaartjies vir sy tweede optrede, in die Baai, kos R90 en kan by die Westway-kafee in Newtonpark gekoop of bespreek word (041 365 0217).

Jeffreysbaai is De Priester se derde stop. Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R50 vir skoliere en besprekings kan by 042 293 2500 gedoen word.

Sy laaste konsert is die daaropvolgende aand op Uitenhage. Kaartjies kos R90 vir volwassenes en R70 vir skoliere en besprekings kan by 083 379 9590 gedoen word.

Vir meer inligting oor dié toer, bel Pieter Rademeyer Jr by 083 320 6228 of stuur ’n e-pos na pieter@prunlimited.co.za.