Om te adverteer, sê die slimkoppe in besigheid, is ’n goeie ding. Ek stem saam, maar my mening omtrent dié affêre is al paar keer die afgelope tyd ’n behoorlike knou toegedien.
Want sien, die ink van die publikasie waarin ons nuutste advertensie verskyn, is skaars droog of die foon begin lui. En dis nie ’n goeie lui nie.
Dis ’n verkoopsagent wat, soos menig ander van sy spesie, om publikasies broei en bloeddorstig kontakbesonderhede neerskryf van adverteerders wat vandag vir ’n ander saak gewen moet word. Vir sy saak. En vir hom is dit ’n saak van lewe en target-mis.
Die volgende scenario is só tipies:
“Meneer Rademeyer, het jy al gehoor van die of daai nuwe produk wat perfek vir julle sal wees?” (Ek weet al ek durf nie iets anders sê as om die vraag te beantwoord nie, want netnou verloor hy die lyntjie op die rekenaarskerm vanwaar hy sy rympie aflees.)
“Ek het dit klaar,” sê ek kortaf met my oog op nóg ’n e-pos wat inkom. Die Subject-lyn lees: “Ongelooflike aanbieding net vir U!” My moed sak verder in my skoene.
“Nee, maar u kan dit nie al hê nie, want dis splinternuut op die mark,” gooi die ou ’n bak koue water in my gesig.
“Nee, dankie, ek het regtig alles wat ek nodig het.” Ek sit vinnig die foon neer voor hy vra of hy net “‘n uur of wat” van my tyd kan kry om sy produk vir my te kom wys. Behoede my.
Dis ’n daaglikse ergenis om verkoopsagente van jou rug af te hou. As jou naam eers op daardie gevreesde lysie van hulle is, het hulle jou. En hulle los nie. Klou verbete tot hulle jou mal maak met hul “uitsonderlike aanbiedinge”:
Die een het spesiale water wat selluliet verminder; die ander een se penne skryf vanself, want dit registreer wat jy dink; daar is toiletrolle wat na heuning ruik en ingevoerde meelsakkies wat ’n pan kan raak later; selfs tafels wat vanself opslaan en hop tot in die stoorkamer waar dit gebêre word . . .
Verlede Dinsdag kon ek aanvoel ons was die vorige dag in ’n publikasie. Die foon lui, my rekenaar dreun onder versoeke – as ek ja moes sê vir almal, sou ek omtrent dieselfde spandeer het as wat Hillary Clinton in haar verkiesingsveldtog instop.
Ek moet hulle met stokke afslaan, en bied dan maar die mooi, Calvinistiese antwoordjie aan: “Dalk ’n ander keer.” Maar moenie dink hulle neem hierdie woorde nie ernstig op nie.
“Wanneer dan?” Ek verkies om dit as ’n retoriese vraag te hanteer.
Teen laatmiddag is ek al gereed om in tale te begin praat. My foon lui. “Pieter, kan jy Xhosa praat?”
“Nee,” sê-proes ek om my eie histerie nie té duidelik te maak nie.
“Pieter, wil jy Xhosa praat?”
“Nee, maar hoekom vra jy?”
“Ag, ou Pietman (!?), ek het mos hierdie tapies wat jy in die kar kan luister en dan is dit sommer een-twee-drie (as sy die regte klapklank in die “X” van Xhosa gebruik het, sou ek dalk kon dink sy het al na haar eie tapies geluister).
Toe val my Calvinistiese wiele af, ek lê agteroor in my stoel en lag die lekkerste lag uit my maag – vir die vrou wat haar ou Xhosa-tapies aan my wil afsmeer, maar sommer vir die hele spul jakkalse wat op loer lê vir ons ouens wat nog glo advertering is goed.
Was die mense vir wie die advertensies eintlik bedoel is, so paraat soos die verkoopskonsultante, sou ek dalk ’n hele paar rand ekstra gehad het om wel ’n ou Xhosa-tapie of twee aan te skaf!