Daar is net één tipe vrou vir wie ek banger is as die soort wat graag met rugbytruie rondloop – dié wat verkeerd aantrek werk toe en dit nie weet nie.

Ek sê nie almal móét elke dag soos Louwna van Egoli lyk nie, maar daar ís darem ’n sekere standaard, of hoe?

In my relatief kort bestaan, glo ek, het ek al genoeg gesien en ervaar om ’n paar groepe te kan identifiseer. Gelukkig (vir ons almal) trek die meerderheid vroue nog mooi en stylvol aan. Dis die res oor wie ek vandag wil praat . . .

Daar is diegene wat nog nie gehoor het die trekkery oor die Drakensberge is al jare gelede verby nie. Hulle lyk vaal en onversorg én stap met ’n gesukkel, want hul Voortrekker-rompe en -skoene dateer uit die oude doos. En dan tap die sweet hulle ook nog af danksy die dik sykouse en lae op lae onderklere.

Dan is daar die groep wat geen benul het van wat “werk” nie. Ek is tot vandag toe oortuig my wiskunde-onderwyseres se kleresmaak het ’n direkte (of is dit nou direk eweredig?) invloed op my wiskunde-punt gehad.

Sy het gereeld soos ’n pikkewyn gelyk (met ’n rek om haar enkels wat die spulletjie bymekaar hou). Sy het ook graag haar sitkamergordyne oor haar gedrapeer.

Hoe op dees aarde kon ek haar nou ernstig opneem oor die bestaan van ’n X en ’n Y as ek haar oortuiging om elke dag só aan te trek nie eers onder die knie kon kry nie? Al X wat ek geglo het bestaan, was die reuse strik op haar boude!

Dan is daar die tipe vrou wat met duistere agendas aantrek om mans te probeer manipuleer. Só kom een van dié groep se verteenwoordigers verlede week by ons kantore aan om ’n voorlegging te doen.

Toe sy waggelend by die trappe opkom, moes sy haar afgesplinterde wit hoëhakskoene uittrek en die rompie was só styf dat sy beswaarlik een voet voor die ander kon sit.

Ek bekyk dié verskynsel oor ’n afstand van bo af (met sulke vroue, het ek al geleer, maak mens nie onnodig oogkontak nie): naels net-net te lank, vel net-net te bruin, lippe net-net te rooi, kettings net-net te fake en net-net te veel strepies in die hare. En ek ruik die goedkoop parfuum. En besef hier is probleme.

In my kantoor gekom, begin sy met haar storie. Sy giggel en gooi haar kop agteroor. Haar hande met die vals naels en ’n ring aan elke vinger praat saam. Sy glo haar skoonheid bekoor my, want ek lag selfs ongemaklik saam op die regte plekke.

Die volgende oomblik skuif sy effe ongemaklik rond en net toe ek die ergste verwag, bewys sy my sowaar reg. Sy lê uitloklik vooroor (’n paar knope dreig om los te skiet) en vou haar arms (vir ekstra ondersteuning en skop, want die tyd het vir haar ook aangestap . . . !) voor haar op die tafel.

Ek wou nog verduidelik dat ek met ander oë as ’n verveelde middeljarige man met ’n krisis na haar kyk; dat ek van meisies van my eie ouderdom hou. My moed begewe my egter en voor sy ’n verdere woord deur daai tuitende rooi lippe kon kry, druk ek die panic button.

Ek gryp haar aan die arm en skree bo die geraas van die alarm uit dat ons dadelik die gebou moet ontruim! Ek sleep haar agter my aan, want haar klere sit te styf vir haar om self te kan hardloop. Fake juwele spat in alle rigtings.
 
Terug op kantoor, sê ek vir ons sekretaresse sy kan maar vir Atlas bel en die armed response kanselleer – die groot gevaar is nou net met ’n vreeslike gesukkel by die deur uit!

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 360 3127
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

Pieter Rademeyer (PR Unlimited)