Versekeringspolisse kan deur versekeraars of versekerdes gekanselleer word, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.

Die algemene opvatting is dat versekeraars nie polisse kan kanselleer tensy versekerdes versuim om hul premies te betaal of polisvoorwaardes verontagsaam nie.

Dis wel so dat versekeraars die reg in terme van die poliskontrak het om polisse vir bogenoemde redes te kanselleer, maar dit is nie noodwendig al nie.

’n Versekeringspolis is ’n kontrak soos enige ander, wat beteken albei partye het die reg om te kanselleer deur kennis te gee en geen redes hoef aangevoer te word nie.

Sou versekerdes van versekeraar wou verander, kan hulle hul polisse kanselleer deur vooraf ingevolge die poliskontrak kennis te gee – net soos wanneer huurders die eienaar van ’n huis of verhuringsagent in kennis stel dat hulle beplan om te verhuis.

Waar ’n jaarpremie vooruit betaal is, kan dit wees dat daar ’n plig op die versekeraar in terme van die poliskontrak is om ’n gedeelte van die vooruitbetaalde premie terug te betaal. ’n Vooruitbetaalde jaarpremie beïnvloed geeneen van die partye se reg tot kansellasie nie.

Indien versekeraars hul reg om te kanselleer wil uitoefen, moet hulle dertig dae kennis gee. Indien dit gebeur, sal dit waarskynlik ’n negatiewe impak op versekerdes se vermoë om elders dekking te kry, hê.

Voornemende versekeraars sal uitvra oor die eise-geskiedenis van die vorige drie jaar asook oor die kansellasie van polisse deur ander versekeraars. Versekerdes is verplig om sodanige inligting aan voornemende versekeraars te verskaf en dit kan beteken dat dekking geweier word.

Dit kan vergelyk word met wanneer ’n bank jou rekening sluit of ’n aansoek om jou kredietfasiliteit uit te brei, afgekeur word.

Die beste manier om dít te voorkom, is vir versekerdes om vorige kansellasies met die intrapslag al te verklaar en om voornemende versekeraars van die volledige feite ten opsigte van hul versekeringsgeskiedenis te voorsien.

Wanneer versekerdes hul polisse kanselleer, is dit altyd goed om die datum van kansellasie te beklemtoon en dit op skrif te plaas.

Afgesien daarvan dat die poliskontrak van ’n kennistydperk melding maak, gebeur dit soms dat versekerdes polisse met onmiddellike effek kanselleer, versekeraars dit so aanvaar en dat ’n gedeelte van die vooruitbetaalde premie terugbetaal word.

Dit kan tot gevolg hê dat versekerdes onmiddellik sonder versekering sit terwyl hulle moontlik onder die indruk verkeer dat daar nog dekking tot aan die einde van die maand is.

Indien iets in hierdie tydperk sou gebeur wat tot skade en ’n gevolglike eis lei, sal versekeraars onder geen verpligting staan om dit uit te betaal nie.

Dit spel groot drama as versekeraars polisse kanselleer en daarom moet die risiko so bestuur word dat dit nie gebeur nie.

Die indiening van bedenklike eise is waarskynlik die grootste oorsaak van poliskansellasies – so maak seker joune is nie.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.