Weens die steeds stygende koste van naskoolse opleiding en akkommodasie vir studente word baie ouers deur ’n groot finansiële las in die gesig gestaar wanneer hul kinders verder gaan studeer, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.

In die warboel wat met die reëlings en voorbereidings gepaard gaan, kan dit maklik gebeur dat die ouers nalaat om seker te maak hul kinders se besittings en die inhoud van hul koshuiskamers of loseerplek is verseker.
Dis wanneer die term “versekerbare belang” ter sprake kom. Kortliks kom dit daarop neer dat ’n versekerde aan die versekeringsmaatskappy moet kan bewys dat hy of sy in bepaalde omstandighede ’n finansiële verlies kan ly.

Daar moet ’n persoon of ’n voorwerp wees wat verseker kan word en dít moet die grondslag van die versekering vorm.
 
Wanneer ’n kind ’n eie inkomste het en nie meer finansieel van die ouers afhanklik is nie, is dit verkieslik dat die kind self ’n polis uitneem.

Kinders wat heeltyds studeer en nog finansieel van hul ouers afhanklik is, se versekerbare goedere kan steeds deur hul ouers se versekering gedek word, aangesien daar steeds versekerbare belang is.

Ouers verkeer soms onder die wanindruk dat hul kinders se eiendom by die universiteit en by hul verblyfplek outomaties deur hul polis gedek is. Vir alle goedere wat egter as huisinhoud verseker word, moet die korrekte risiko-adres gespesifiseer word.

Studente het gewoonlik elektroniese toerusting soos rekenaars, selfone, iPads en iPods.  Dié artikels moet gespesifiseer word onder die Alle Risiko-afdeling van hul ouers se versekeringspolis.

Studente se verblyfplek is dikwels ’n teiken van inbrekers, veral weens die toeloop van studente en omdat die veiligheidsmaatreëls te kort skiet.

Daarom moet ’n mens seker maak jou makelaar weet presies watter veiligheidsmaatreëls daar van krag is. Dis van die uiterste belang omdat die risiko daarvolgens bepaal word.

Deur die regte inligting te verskaf, kan mens verhinder dat eise afgekeur word.

Baie jong mense studeer ver van hul ouerhuis af. As hulle voertuie het wat op hul ouers se polis verseker is, moet dié inligting ook aan die makelaar verskaf word.

Die risiko-adres van so ’n voertuig, die naam van die gereelde bestuurder en die aanvangsdatum van die bestuurder se rybewys móét aan die makelaar verstrek word. As dit nie gedoen word nie, kan dit groot probleme veroorsaak wanneer eise ingedien moet word.

Ouers moet daarop let dat die meeste versekeraars bykomende bybetalings hef as die gereelde bestuurder jonger as 25 jaar oud is en minder as twee jaar tevore ’n rybewys bekom het, soos dikwels die geval met studente is.

Van die belangrikste dinge waaraan ouers moet dink wanneer hul kinders universiteit toe gaan, is dat hulle finansieel veilig en teen alle voorsienbare gebeurtenisse beskerm is.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.