Die veiligheid van jou familie en eiendom behoort hierdie vakansieseisoen hoog op jou prioriteitslys te wees, skryf die finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Statistieke wys dat kriminele aktiwiteite gedurende dié tyd toeneem en dit is dus noodsaaklik om voorsorgmaatreëls te tref.
Mense met korttermynversekering moet voldoen aan die sorgsaamheidsplig, wat daarop neerkom dat jy alle redelike voorsorgmaatreels moet tref en sorg aan die dag moet lê om verlies, skade, dood, besering of aanspreekliheid te voorkom of te verminder.

Die eerste en belangrikste stap om jou risiko te verminder, is om te verseker dat jou alarmstelsel werk. Mense is geneig om te vergeet dat ’n alarmstelsel, soos ’n motor, onderdele het wat verouder en daarom versien moet word.

Donderstorms, wat algemeen in die somermaande is, kan verwoesting saai wanneer dit by alarmstelsels kom. Gaan joune ná elke storm na.

Versekeringsmaatskappye ondersoek gewoonlik alarmstelsels ná ’n inbraak om vas te stel of dit behoorlik onderhou is.

Nog ’n belangrike wenk is om strategies te beplan vir wanneer jy weggaan.

Parkeer motors wat agterbly agter geslote deure of in ’n motorhuis en moenie boodskappe op jou antwoordmasjien laat wat verklaar dat jy met vakansie is nie.

Lig jou sekuriteitsmaatskappy in dat jy weggaan en maak seker dat jy al die nodige inligting – soos wie spaarsleutels het – aan hulle verskaf.

Stel jou bure van jou vakansieplanne in kennis, stop koerantaflewerings en vra iemand om jou pos uit te haal. ’n Posbus wat oorvol is, is ’n duidelike teken dat jy nie tuis is nie.

Maak seker alle vensters en deure is gesluit voor jy vertrek. Goeie buitebeligting, wat verkieslik aan ’n tydbeheerstelsel gekoppel is, is ook ’n aanbeveling.

Moenie gereedskap soos lere en grawe buite los nie aangesien dit gebruik kan word om in jou huis in te breek.

’n Bord wat aandui dat jy ’n alarmstelsel en/of gewapende reaksiediens het, help ook om inbrekers te ontmoedig.

My boodskap is redelik eenvoudig: wees versigtig en tree verantwoordelik op om te verhoed dat inbrekers jou vakansie versuur en dalk hope geld kos.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.