Wanneer mense olik is of raad oor hul gesondheid wil hê, gaan hulle gou-gou dokter toe, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Maar wanneer hul geldsake aandag nodig het, is hulle vreemd genoeg traag om ’n kundige te raadpleeg.
Baie mense se persepsie is dat finansiële beplanners basies polissmouse is en dit maak dit somtyds moeilik vir beplanners om afsprake op te stel met diegene wat hul hulp dringend nodig het.
Eintlik behoort mense self die inisiatief te neem om by ’n finansiële beplanner uit te kom sodat hulle saam-saam kan kyk of alle geldsake in orde is.
Dit is omtrent soos ’n gereelde mediese ondersoek. Almal behoort gereeld ’n draai by ’n goeie “finansiële dokter” te maak.
’n Finansiële beplanner kan nou wel nie geld aan jou uitdeel nie, maar hy of sy kan jou bystaan om jou geldsake agtermekaar te kry en dit so te hou.
Finansiële beplanning staan, kortweg gesproke, op twee bene: boedel- en aftreebeplanning.
In vandeesweek se artikel raak ons aan die basiese beginsels van boedelbeplanning en aanstaande week kyk ons na die belangrikheid van ’n boedelontleding. Daarna neem ons aftreebeplanning onder die loep.
Boedelbeplanning behels veel meer as die berekening van boedelbelasting en die opstel van testamente. Die belangrikste aspek daarvan is dat ’n mens moet seker maak jou afhanklikes is finansieel onafhanklik wanneer jy nie meer daar is nie.
Wanneer iemand se boedel nie genoeg bates bevat om voldoende inkomste aan die afhanklikes te lewer nie, moet dit met lewensversekering aangevul word. Die vraag is egter met hoeveel.
’n Riglyn wat gebruik kan word, is om ’n miljoen rand se kapitaal te hê vir elke R5 0000 aan maandelikse inkomste wat nodig is.
Dit is bloot ’n riglyn, want in baie gevalle word bykomende voorsiening gemaak vir kinders se erfporsies ensomeer. ’n Tipiese voorbeeld is ’n boer wat sy plaas aan sy seun nalaat en deur middel van lewensversekering vir sy dogters sorg.
Maar sodanige voorsiening skiet dikwels te kort omdat baie mense nie met die waarde van geld tred hou nie.
’n Man wat dink R3 miljoen is genoeg voorsiening vir sy vrou en drie laerskoolkinders, slaan die bal ver mis en ’n onsmaaklike verrassing wag dalk op sy afhanklikes.
Ook ongeskiktheid kan rampspoedige gevolge vir ’n gesin inhou. Elke broodwinner moet homself afvra of hy presies weet wat sy en sy afhanklikes se situasie gaan wees as hy skielik tydelik of permanent ongeskik raak.
Wees gewis dat boedelbeplanning geen maklike proses is nie en dat daar geen kortpaaie is nie.
Volgende week kyk ons wat ’n boedelontleding behels.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.