Desember is tradisioneel ’n tyd van geskenke, bonusse, vakansie, feesvier en uiteindelik Nuwejaarsvoornemens, skryf die finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Baie van ons is vasgevang in ’n bose kringloop van geld spandeer en jaarliks word nuwe rekords gebreek soos wat mense bonusgeld verkwis en die gewillige kredietkaart rondswaai.

Dis ook opmerklik hoe sommige finansiële instellings van dié geleentheid gebruik maak om hul rente-inkomste te verhoog.

Daai SMS of brief wat jou inlig dat jou kredietkaartlimiet verhoog is, laat jou goed voel en sus die gewete ietwat wanneer jy voor die versoekings van duur geskenke en luukse vakansies swig.

Ons weet almal dis onrealisties om van kinders te verwag om nie geskenke met Kerstyd te kry nie, maar daar is tog maniere om hierdie koopmanie te beperk.

Die belangrikste is waarskynlik om deeglik te beplan en ’n begroting vir hierdie uitsonderlike maand op te stel. Terwyl geskenke en vakansies onvermydelik is, kan mens deur versigtig te begroot beslis die uitgawes beperk.

Belê ’n familievergadering en besluit saam oor ’n plan van aksie. Kinders kan byvoorbeeld ’n “bonus” saam met hul Desember-sakgeld verdien vir daardie ekstra roomys of uiteet saam met vriende.

Ek kan onthou hoe vervelig dit as kind was om ’n sinvolle, praktiese geskenk te kry en die ergste was waarskynlik ’n koevertjie met geld. Maar, soos ’n mens ouer word, raak dit meer en meer sinvol om geld te gee of te ontvang.

Nie nét verdof dit die pyn van eindelose inkopies nie, dit spaar mens ook teen die teleurstelling van iets kry wat jy werklik nie nodig het nie.

Terwyl kinders nog kinders is, maak dit ook sin om êrens ’n spaarrekening te hê waarin Kersfees- en verjaardaggeld gespaar word.

Dis verbasend hoe vinnig dit groei en ná net ’n paar jaar verander die spaarrekening in ’n belegging wat ’n gróót geskenk op ’n 18de of 21ste verjaardag kan wees.

Probeer ook om van jou bonus in ’n noodfonds weg te sit. Gebruik sê maar die helfte om die feestyd te befonds, maar hou vas aan die res.

Goeie tydsberekening kan ook baie geld spaar. Bly liewer Kersfees en Nuwejaar tuis en gaan huur daardie huisie by die see nadat die grootste gros vakansiegangers weg is.

Nie net is dit bietjie rustiger nie, dis ook verbasend hoe die prys van kos en ander noodsaaklikhede ná die spitstyd daal.

Dis ook nie onvanpas om oor die prys van blyplek te onderhandel as die piekseisoen eers verby is nie.

Die man wat sy vakansiehuis teen R5 000 per dag verhuur het, sal dalk R2 000 per dag vir ’n ekstra week aanvaar.

Geniet die Kerstyd, maar beplan sinvol daarvoor en pasop vir die finansiële slaggate as jy die spreekwoordelike Januarie-babelas wil vryspring.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.