Sonder deeglike beplanning is goeie beleggings eenvoudig onmoontlik, skryf die finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.
Eintlik moet beleggingsbeplanning lank voor jou aftrede al deel van jou lewe wees en dus moet jy deurentyd op hoogte bly van faktore wat jou planne en beleggings kan beïnvloed.
Dis ’n onderwerp waarna ons, na aanleiding van ’n leser se vraag, vandeesweek weer noukeurig kyk.
Beleggingsbeplanning word hoofsaaklik voor aftrede gedoen, maar dit moet ná aftrede volgehou word.
Daarby moet ’n belangrike beginsel in gedagte gehou word: dié soort beplanning behels veel meer as die blote belê van geld. Die koop van ’n huis, televisiestel of motor, selfs ’n verandering van werk, is alles beleggingsbesluite.
Die huidige stand van die ekonomie, ekonomiese vooruitsigte, rentekoerse, die goudprys, wisselkoerse en selfs natuurtoestande beïnvloed besluite wat elke belegger moet neem.
Niemand het beheer oor bogenoemde faktore nie en daarom moet ’n mens jou toespits op dié waaroor jy wel beheer kan uitoefen.
Belasting speel altyd ’n belangrike rol en dus is dit belangrik dat jou opbrengste uit beleggings ná belasting bepaal moet word.
Ten tweede moet beleggers seker maak dat hulle te eniger tyd genoeg kontant beskikbaar sal hê – ’n saak van likiditeit. As jy byvoorbeeld ’n sake-onderneming koop, moet jy seker wees daar is genoeg kontant om voldoende bedryfskapitaal te verseker.
Likiditeit kan nadelig beïnvloed word as iemand byvoorbeeld ’n woonplek koop wanneer hy wéét hy gaan binne ’n jaar verplaas word. Dit kan immers nie binne ’n dag in geld omgesit word nie.
Risiko is seker die belangrikste aspek wat in ’n mens se beplanning in berekening gebring moet word. Almal wil altyd maksimum opbrengs met minimum risiko hê.
Hoë-opbrengs-beleggings gaan egter gewoonlik gepaard met lae sekuriteit terwyl lae-risiko-beleggings met lae opbrengste vereenselwig word. Aandele en effektetrusts is voorbeelde van die eerste groep en vaste deposito’s van die tweede.
Dis dus belangrik om te streef na ’n balans tussen sekuriteit, risiko en groei.
Verder is dit noodsaaklik dat beleggingsplanne inflasiebestand moet wees om reële groei of ’n stygende inkomste te bied.
Die afgelope jare het sommige lae-risiko-beleggings ná belasting ’n negatiewe reële groeikoers gehad omdat die inflasiekoers hoër as die nominale rentekoers was. Die gevolg is die vermindering van kapitaal.
Hoewel die samestelling van ’n beleggingsplan grootliks van individuele behoeftes afhang, behoort die plan grotendeels uit vier komponente te bestaan: ’n noodfonds, inkomstegewende beleggings, groeibeleggings en lewens- en ongeskiktheidsdekking.
In Suid-Afrika is slegs ses uit elke 100 mense by aftrede finansieel onafhanklik, 16 kry ’n staatspensioen, 31 moet aanhou werk en 47 is afhanklik van familielede.
Die vernaamste redes is die inkomstegaping (die verskil tussen iemand se salaris en sy inkomste uit ’n pensioen), inflasie en verwagte lewensduur.
Met aftreebeplanning moet jou doelwitte dus die handhaaf van jou lewenspeil, volkome finansiële onafhanklikheid en beskerming teen inflasie wees.
Al het jy vooraf deeglik planne beraam en in werking gestel, moet jy in ag neem dat nóg belangrike besluite geneem moet word die dag wanneer jy aftree. Een voorbeeld is dat verskeie opsies oorweeg moet word voor die uitkeer van ’n annuïteit.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.