Onstabiliteit in finansiële markte ná gebeurtenisse soos terroriste-aanvalle en natuurrampe veroorsaak dikwels paniekerigheid by beleggers en laat hulle emosionele besluite neem, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Ekonome maan dikwels teen emosionele besluite wat beleggers se langtermyn-doelwitte negatief kan beïnvloed en selfs vernietigende gevolge kan hê. Op dié terrein moet ’n mens te alle tye deurdagte besluite neem wat op logiese, redelike denke gegrond is.
Emosie kan veroorsaak dat beleggers paniekerig raak wanneer die mark terugsak of die ekonomie sukkel. Aan die ander kant kan dit ook veroorsaak dat hulle gulsig raak wanneer die mark skielik opvlam.
So ’n opswaai laat baie beleggers blindelings agter “die trop” aanstorm. Hulle raak só gulsig dat hulle dinge doen sonder dat hulle alle faktore deurdink.
Party is geneig om skielik risiko’s te vermy deur ’n draai te loop om iets wat heel aanvaarbaar was toe hulle langtermyn-beplanning gedoen het. Of hulle aanvaar, ook weens gulsigheid, risiko’s wat nie met hul langtermyn-strategie ooreenstem nie.
Die oorsprong van die gesegde wat lui dat die markte deur gulsigheid en vrees gedryf word, kan duidelik in sommige mense se beleggingsfilosofie gesien word.
Resultate van die wêreldbekende Dalbar-navorsing wys ewe duidelik hoe die afbrekende kragte van emosionele besluite beleggers benadeel.
Gedurende die 20 jaar voor en tot in 2009 het die algemene markindeks meer gegroei as die beleggings van beleggers wat die markte probeer bestuur het terwyl die element van emosie betrokke was.
Die verskynsel waar beleggers die markte probeer “time”, het omtrent altyd ’n negatiewe impak op groei, want foutlose tydsberekening op dié gebied is byna onmoontlik.
Die enigste genade is om seker te maak jy het ’n gediversifiseerde beleggingsportefeulje en dat die keuse van bateklasse jou doelwitte weerspieël.
Een van die maniere waarop beleggers emosionele besluite kan vermy, is om ’n gesoute beleggingsadviseur te raadpleeg. So ’n kundige behoort die kliënt mooi in die regte rigting te stuur en hom of haar te help om logies en rasioneel oor ’n strategie te besluit.
’n Mens kan ook met ander basiese stappe emosionele besluite vermy.
Ten eerste moet jy jou beleggingsdoelwitte verstaan en daarby hou. Verder moet jy realisties wees oor die groei wat jy verwag en jou beleggingstydperke beplan sodat hulle met jou lewenspatroon ooreenstem.
My raad is om ’n duidelike beleggingsfilosofie te aanvaar en konsekwent te bly; dus om korttermyn-spekulasie te vermy en jou eerder op jou langtermyn-doelwitte toe te spits.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.