’n Verloofde paartjie het my onlangs oor bateverdeling-opsies binne die huwelik kom spreek, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Paartjies wat beplan om te trou, het gewoonlik een van drie keuses.
Hulle kan eerstens binne gemeenskap van goedere, met die aanwasbedeling, trou.

Dis wanneer geen voorhuwelikse kontrak gesluit word nie. Daar onstaan dus ’n gemeenskaplike boedel en albei partye word gesamentlike administrateurs daarvan.

Kortliks beteken dit dat beide partye finansiële gelykheid geniet, maar steeds mekaar se toestemming nodig het indien hulle van die boedelbates wil verkoop. Mondelinge en geskrewe toestemming is aanvaarbaar.

Beide partye kry outomaties ’n halwe aandeel van die boedel – dit wil sê alle bates wat voor en gedurende die huwelik bymekaar gemaak word.

Die nadeel hiervan is egter dat skuld deur enigeen van die partye ook in gelyke porsies deur albei “besit” word.

Jy kan dus maklik verantwoordelik raak vir jou lewensmaat se skuld, of omgekeerd! Dié opsie bevat groot risiko’s – veral wanneer insolvensie intree.

Indien jy of jou maat afsterwe, word die boedel onder die administrasie van ’n eksekuteur geplaas, wat dit dan alleen beredder. Dié opsie is dus nie altyd wenslik nie.

’n Tweede opsie is om buite gemeenskap van goedere te trou, sonder die aanwasbedeling. In hierdie geval moet die partye voor huweliksluiting ’n notariële voorhuwelikse kontrak laat opstel en verly voor ’n notaris.

Dit beteken dat elkeen sy eie boedelbates beheer en ook nie vir mekaar se skuld aanspreeklik is nie – behalwe as daar borg geteken is. Om dit eenvoudig te stel: “Wat joune is, is joune en wat myne is, is myne”.

Met dood, word slegs die afgestorwe party se boedel onder eksekuteursadministrasie geplaas. As jy daaraan dink om dié opsie te kies, moet jy seker maak die aanwasbedeling word in die voorhuwelikse kontrak uitgesluit – anders word dit outomaties ingesluit.

Dit geld vir alle huwelike ná 1 November 1984.

Die laaste opsie is buite gemeenskap van goedere, met die aanwasbedeling. Dit werk op dieselfde basis as laasgenoemde, behalwe dat bates wat tydens die huwelik bymekaar gemaak word, gelyk verdeel word.

Volgens die wet op huweliksgoedere, is die party wie se aanwas gedurende die huwelik kleiner was, geregtig op die helfte van die verskil van die aanwas van die twee boedels.

Jy’s nie verantwoordelik vir jou maat se bestaande skuld nie, maar jy deel in wat julle tydens die huwelik versamel het. Die deling geskied net as jy of jou maat sterf.

Dié bedeling is ’n ideale keuse vir paartjies wat nog nie noemenswaardige boedels versamel het nie.

Dis ook ’n oplossing vir mense wat bekommerd is dat een party bates bekom wat nie sekuriteit aan die ander bied nie.

Dit bied die voordele van ’n verdeling van bates, met beskerming teen krediteure.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.