’n Leser het heelwat skade gely toe ’n eekhoring deur die skoorsteen toegang tot die huis verkry en aan die banke en gordyne geknaag het, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Tot haar onsteltenis moes sy verneem dat sy nie teen sodanige skade verseker is nie.
Versekering teen skade deur diere en plae verskil van maatskappy tot maatskappy. ’n Algemene uitsluiting op polisse is skade wat deur insekte en plae veroorsaak word.

Hier hang die dekking van die polisbewoording en van die versekeraar se vertolking af. Luidens een versekeraar se definisie is eekhorings nie plaagdiere nie, maar volgens ’n ander s’n wel.

Plaagdiere is moeiliker om te definieer as insekte. Daarom is dit verstandig om jou polisdokument deeglik deur te lees of jou makelaar te raadpleeg.

In die algemeen word muise en rotte as plae beskou. Dekking teen skade wat hulle kan berokken, word uitgesluit. Jy sal dus nie vir jou leerbank van R20 000 kan eis as ’n rot dit beskadig het nie.

Die versekeraar beskou ook sulke skade as die gevolg van gebrekkige instandhouding omdat plae voorkombaar is. Swak instandhouding is trouens ’n algemene rede vir die verwerping van eise.

Die kou, krap, skeur en bevuiling van huishoudelike goedere deur troeteldiere word ook in polisse uitgesluit. Om teleurstelling te vermy, moet ’n mens liefs ’n bykomende klousule, “toevallige skade”, by jou polis insluit.

Die goeie nuus is dat daar darem polisse is wat dekking teen skade deur wilde diere verskaf.

’n Versekeraar het onlangs ’n eis ontvang nadat ’n wilde kat deur ’n venster in ’n kliënt se huis geklim het toe die inwoners by die werk was. Die kat het beddegoed en lakens verskeur en sy “merk” op verskeie plekke gelaat. 

Die eis is uitbetaal omdat ’n wilde kat nie ’n troeteldier is nie en ’n mens nie beheer oor wilde diere se gedrag het nie.

Dieselfde geld bobbejane. Sekere maatskappye (soos Santam) sal jou teen skade verseker as jy in ’n gebied woon waar bobbejane soms huisvensters oopmaak en inklim.

Jou versekeringsmaatskappy sal jou kan inlig oor watter wilde diere in aanmerking geneem word wanneer eise oorweeg word. Jou premie of bybetaling kan dalk verhoog word of die dekking kan tot ’n bepaalde bedrag beperk word as sodanige risiko’s bestaan.

’n Ander vraag is of die ellende met die eekhoring dalk as toevallige skade beskou kan word omdat die vensters en deure toe was en niemand kon voorsien dat die klein ondeug by die skoorsteen sou inklim nie.

Versekeringsmaatskappye definieer toevallige skade as iets wat skielik en onverwags gebeur, soos wanneer jy per ongeluk jou televisiestel omstamp. Die moontlikheid is dus beter dat so ’n eis uitbetaal sal word as die polis vir “toevallige skade” voorsiening maak.

’n Mens moenie verwag dat die woorde “alle risiko’s” in ’n polis jou teen alle soorte skade of verliese dek nie. Kyk wat die algemene uitsluitings is wat op die hele polis van toepassing is, sowel as die spesifieke uitsluitings.

As skade deur plae of plaagdiere in jou polis ’n algemene uitsluiting is, sal dit normaalweg ook onder die afdeling “alle risiko’s” uitgesluit word.

Stuur jou finansiële en beleggingsvrae na pr@fullstopcom.com.
 
Pieter Willem is ’n finansiële raadgewer en stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Die onderneming se missie is om finansiële sekuriteit en rykdom vir kliënte te skep. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.
 
Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PWM Financial Management