Dit val my gereeld op dat persone wat in korttermynversekering belang stel, nie altyd seker is wat hulle van hul makelaar kan of moet verwag nie, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.
Daarom het ek dit goedgedink om, met behulp van die ombudsman vir korttermynversekering, die belangrikste aspekte in dié verband uit te lig.
Die ideaal is natuurlik om na ’n verhouding van wedersydse respek, vertroue, integriteit en oop kommunikasie te streef.
Jy maak staat op jou makelaar se kundigheid, ondervinding en vermoë om jou versekeringsbehoeftes en -vereistes suksesvol te assesseer en in die lig van jóú finansiële situasie te bevredig.
Op sy beurt, maak hy staat op jou eerlikheid in die voorsiening van inligting om hom in staat te stel om sy pligte suksesvol en tot jou voordeel uit te voer.
Hy maak ook staat op jou bereidwilligheid om na sy raad te luister en dat jy jouself aan die beginsels van gesonde risiko-bestuur onderwerp – dis sy plig om sodanige beginsels aan jou uit te lig.
Van al die bogemelde aspekte, is wedersydse respek en vertroue die heel belangrikste.
Ongelukkig – en vir verskillende redes – voldoen alle makelaars nie altyd aan die nodige professionaliteit en hoë standaarde wat dié bedryf vereis nie en moet ’n vertrouensverhouding eers opgebou word.
Dis nie raadsaam om ’n makelaar met jou versekeringsake toe te vertrou bloot omdat hy ’n goedkoop premie aanbied nie. Vra eerder rond en kry goeie aanbevelings soos wat jy sou doen in die geval van ’n dokter, prokureur of rekenmeester.
Dis belangrik om uit te vind wat die potensiële makelaar se professionele reputasie is. Die status en volhoubaarheid van sy praktyk is ook van kardinale belang.
Jy kan van jou makelaar verwag om jou versekeringsbehoeftes te ontleed, dit in fyn besonderhede met jou te bespreek en aanbevelings te maak.
Dis belangrik dat hy vir jou voldoende dekking by erkende versekeraars kan reël en die finansiële aspekte en belangrikste polisbesonderhede kan verduidelik.
Jou makelaar moet jou ook kan voorsien van ’n kopie van die polisskedule en -bewoording waarin die polisvoorwaardes uiteengesit word. Die versekeraar se identiteit moet duidelik op die skedule aangebring wees.
Verder kan jy van hom verwag om jou tydig in te lig oor endossemente en polisvoorwaardes wat verander, asook van beplande premie-aanpassings.
Jou makelaar moet jou in kennis stel wanneer ’n premie nie deur die versekeraar ontvang is nie om sodoende probleme in die geval van ’n eis uit te skakel.
Dis belangrik dat hy nie jou versekeringsportefeulje in so ’n mate verander dat ’n bestaande polis gekanselleer en met ’n ander vervang word sonder jou toestemming nie.
Indien jy toestem, moet doodseker gemaak word dat die nuwe dekking net so wyd en doeltreffend soos die vorige is. Jou makelaar moet enige verskille duidelik aan jou uitwys.
Sodra jy gemaklik is jou gekose makelaar voldoen aan al die bogemelde elemente, kan julle begin om ’n wedersydse vertrouensverhouding wat in die lange duur tot albei se voordeel strek, te ontwikkel.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.