Ek wil vandag sommer so in die algemeen ’n lansie vir finansiële raadgewers breek, skryf Pieter Willem Moolman.
Baie mense dink ons is net daar om polisse te verkoop, maar niks kan verder van die waarheid af wees nie.
Ordentlike beplanning is een van die belangrikste aspekte van finansies en dis hier waar jou raadgewer vir jou goud werd kan wees.
In hierdie rubriek het ek tot vervelens toe al die beplanning van finansiële doelwitte met ’n padkaart vergelyk – jy moet bewus wees van jou vertrekpunt, die roete en eindbestemming.
Veral in die geval van ontydige dood of ongeskiktheid, kan goeie beplanning ’n groot rol speel om sake vir jou afhanklikes te vergemaklik.
Kom ons kyk na die verskillende aspekte van finansiële sekuriteit wat jou en jou familie in sulke gevalle kan raak.
Indien jy skielik tot afsterwe sou kom, is dit uiters belangrik dat jou afhanklikes finansieël onafhanklik is.
Mense dink dikwels dat tot R2 miljoen genoeg voorsiening is, maar die werklikheid is dat dit in vandag se ekonomiese klimaat eenvoudig nie voldoende is nie.
Verskeie uitgawes kan ook ’n groot hap uit jou boedel uit neem.
Eksekuteursfooie is een hiervan en ’n billike fooi moet dus met hom of haar beding word. Kapitaalwins is nog ’n potensiële uitgawe – maak dus seker wat die invloed daarvan sal wees.
Huwelike ná 1983 word deur die aanwasbedeling beïnvloed. Maak dus seker jy is bewus watter invloed dit op jou boedel kan hê.
In ’n onlangse geval, het ’n oorledene meeste van sy bates aan sy kinders bemaak, min wetende dat hy eers ’n aanwas-eis van R11 miljoen aan sy vrou moes betaal.
Boedelbelasting kan natuurlik ook ’n impak hê. Dit veroorsaak gereeld kontanttekorte in boedels, wat die taak van die eksekuteur bemoeilik.
Dit kan daartoe lei dat eiendom of ander bates verkoop moet word om uitstaande kostes te vereffen.
Dis duidelik dat lewensdekking nie ’n foefie is nie, maar ’n belangrike rol speel om te verseker dat jou boedel sinvol afgehandel kan word en jou afhanklikes finansieël onafhanklik is met jou dood.
Ongeskiktheid kan in baie gevalle selfs ’n groter impak as dood hê – juis omdat mense minder geneig is om voorsorg daarvoor te tref. Dit kan ’n gesin ruïneer – maak dus seker dat jou finansiële beplanning dit insluit.
’n Geldige testament moet ook ’n belangrike deel van jou beplanning uitmaak. Verseker jou testament is eenvoudig en prakties uitvoerbaar.
Jy kan slegs ’n sinvolle een opstel as jy dit in fyn besonderhede met jou finansiële beplanner of ander kundige bespreek.
Nes jy jaarliks die dokter besoek, behoort jy ook by jou finansiële beplanner aan te klop om seker te maak jy is finansieël gesond.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.