Ek het onlangs vir ’n kliënt ’n beleggingsaanbeveling gemaak toe die kwessie van fooie opduik, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Nes dokters en prokureurs, vra beleggingsadviseurs ook ’n fooi vir hul dienste, wat gewoonlik ’n aanvanklike en bestuursfooi insluit.
Moenie jouself hierteen blindstaar nie – die keuse van ’n betroubare en effektiewe beleggingsadviseur is belangriker.

Kies ’n adviseur wat vir jou goeie raad sal kan gee. As hy ’n beter opbrengs vir jou belegging kan lewer, is die hoër fooi – mits dit natuurlik billik is – gewoonlik niksseggend. ’n Voorbeeld hiervan is kommissie van 1% op ’n opbrengs van 5%.

Bygesê, indien die beloofde opbrengs baie hoër as normaal is, moet die gevaarligte moontlik begin flikker. Daar is geen tekort aan gewetenlose uitbuiters nie.

Kom ons kyk na die verskillende bateklasse en hoe hul fooie werk. Onthou net dat hierdie slegs ’n verduideliking is – beleggingsadviseurs het gewoonlik hul eie riglyne waarvolgens hulle werk.
 
Enkelbedragbeleggings behoort nie ’n aanvangsfooi van meer as 1.5% (mits daar ’n jaarlikse bestuursfooi ook is) te hê nie.

Indien geen bestuursfooi gehef word nie, kan dit egter tot sowat 3% verhoog word. Ongelukkig word baie oningeligte kliënte hier uitgebuit.

Eiendomsbeleggings het ’n meegaande agentekommissie van tot 8% wat gesien moet word as ’n aanvangsfooi. Myns insiens het dit dieselfde beleggingspotensiaal as die aandelebeurs, maar laasgenoemde se koste is laer.

Aandele bestaan uit ’n diskresionêre portefeulje wat bestuur word. Fooie is gewoonlik laer hoe groter die portefeulje is en kan wissel tussen 0.5 en 1.5% jaarliks van die portefeuljewaarde, met geen aanvangsfooie nie.

Moenie bang wees om oor die fooie te onderhandel nie – dit kan ’n belangrike rol by beleggingsopbrengste speel.

Ten slotte, maak seker jou finansiële adviseur se beleggings- en bestuursfooi is billik en dat jy weet wat dit behels.

Dit is ook die moeite werd om ’n bekwame adviseur wat by jou behoeftes pas, aan te stel – anders kan jou belegging daaronder ly.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.