’n Leser wil weet wanneer elektroniese toerusting onder dié afdeling verseker moet word, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Veral ondernemings wat op elektroniese toerusting aangewese is, weet hoe duur dit kan wees. As iets met hierdie toerusting gebeur, kan dit ’n aardige bedraggie kos om te herstel of te vervang.
Omtrent geen besigheid is vandag meer sonder elektroniese toerusting nie – dink maar aan die verskillende soorte rekenaars wat in verskillende bedrywe aangewend word.

Behalwe vir rekenaars, kan ’n groot verskeidenheid elektroniese toerusting verseker word.

Kantooritems soos faksmasjiene, skakelbordtoerusting en fotostaatmasjiene tel hieronder en voeg hierby fotografiese en grafiese toerusting asook kommunikasie-, uitsaai-, radio- en klanktoerusting.

Verdere voorbeelde is elektromediese en navigasietoerusting asook navorsing-, motor- en ander toetstoerusting.

Enige elektroniese toerusting – wat gewoonlik as low voltage equipment beskryf word – kan dus verseker word, solank dit onder normale toestande bedryf word.

Die beskermingsmaatreëls van dít wat verseker word, is van kardinale belang. Sulke items is gewoonlik baie sensitief en moet van vibrasies, lugbesoedeling, brande en oorstromings weggehou word.

Elektroniese toerusting word vir materiële skade gedek, maar die versekering kan uitgebrei word om gevolglike verliese ook in te sluit.

Materiële skade dek die verlies van of skade aan die item terwyl dit binne die versekerde perseel, in transito of tydelik elders is.

Skadeloosstelling kan as gedeeltelike óf algehele verlies hanteer word. In eenvoudige terme, beteken dit dat ’n item eerder herstel as vervang sal word.

Indien die versekeraar die versekerde op ’n algehele verlies-basis wil vergoed, sal toerusting ouer as sewe jaar teen markwaarde skadeloos gestel word.

Gevolglike verlies is gewoonlik opsionele dekking wat geneem kan word indien die toerusting onder materiële skade verseker is.

Uitbreidings wat onder gevolglike verlies geneem kan word, is verhoogde bedryfskoste en herstel van data/programmatuur. 

Verhoogde bedryfskoste is streng gesproke die bykomende uitgawes wat aangegaan is met die uitsluitlike doel om die onderbreking of belemmering van normale werksaamhede te voorkom of teen te werk.

Die herstel van data/programmatuur is die koste vir die heropstel of -samestelling van data of programmatuur wat as gevolg van enige versekerde gevaar verlore gegaan het.

Die kostes wat hiermee gepaard gaan kan hoër as verwag wees en daarom is bogenoemde uiters belangrike uitbreidings.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.