So onlangs soos Mei 2008, het ons ’n ineenstorting van die aandelemark beleef – die tweede in ’n dekade en een van die ergste nóg, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Markte is gekenmerk deur uitspattige aankope, ongeag die grondbeginsels, wat daartoe gelei het dat pryse buitengewoon hoë vlakke bereik het.

As dít gebeur, styg markte dikwels verby hul wesenlik billike waarde aangesien deelnemers aan die mark bang is hulle word agtergelaat. Gedryf deur vrees en gierigheid, kies hulle om eerder met die kudde saam te gaan.

Geskiedenis leer ons dat aandelemarkte by hierdie ongehoord hoë vlakke uiteindelik spoed verloor, wat ’n totale ineenstorting tot gevolg het.Soos beleggers vertroue verloor, veroorsaak hul irrasionaliteit dat die mark tot onder sy billike waarde val.

Markte is egter geneig om taamlik gou van dié laagtepunte te herstel.Sodra markte hul laagtepunt bereik, word beleggers taamlik gou in die maande wat volg met besonder goeie opbrengste op hul beleggings beloon.

Die grootste uitdaging is egter om met sekerheid te voorspel wanneer markte hul laagtepunt bereik het.

So, hoe het beleggers op die mees onlangse krisis gereageer?

In wese het dit hulle byna ’n jaar geneem om vertroue in die mark te herwin en daar is steeds ’n groot groep wat op die kantlyn wag vir groter duidelikheid oor sy rigting.

Dit beteken dat die meeste beleggers ongelukkig die onlangse herstel in die Suid-Afrikaanse aandelemark gemis het.

’n Bydraende faktor tot dié verskynsel is dat emosies ’n baie prominente rol by belegging speel en beleggers is dikwels nie bewus hiervan nie.

Dit veroorsaak dat hulle teen goeie beleggingsgebruike optree.

In tye van onsekerheid in die mark, tree beleggers soms irrasioneel op en verloor hulle hul langtermyn finansiële doelwitte dikwels uit die oog. Hulle laat toe dat die mees onlangse geskiedkundige gebeure hul optrede bepaal.

Hulle koop dus wanneer die pryse hoog is uit vrees dat hulle die oplewing in die mark gaan mis en verkoop wanneer die pryse laag is uit vrees dat hulle geld in die beermark gaan verloor. Dit is in teenstelling met die omgekeerde – om hoog te verkoop en laag aan te koop.

Om dinge te vererger, wag hulle meestal te lank om terug in die mark te kom as hul geld eers uit die mark en terug in die bank is. Hierdie korttermyn-beleggingsfokus wat op emosies gegrond is, verseker dat waarde vernietig word.

Belegging is nie ’n korttermynspeletjie nie en ook nie een waarin perfekte tydsberekening op die mark toegepas word nie. Dit behels ’n vaste finansiële plan met vasgestelde doelwitte wat op die medium- tot langtermyn fokus.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.