Ek het onlangs eise onder die huisinhoud-en-voertuig-afdeling van korttermynversekering bespreek en wil vandag aspekte rondom alle risiko-eise aanraak, skryf finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Dis ’n opsionele afdeling, wat beteken dat slegs die eiendom wat in die bylae (of skedule) onder “alle risiko” vermeld word, gedek sal wees.
Dié afdeling is seker een van dié wat die versekerde die meeste deurmekaar en moedeloos laat.
Daar word gewoonlik aangeneem dat items wat saam met jou gedra word in die geval van ’n eis onder die klerasie-en-persoonlike-afdeling uitbetaal sal word, wat ongelukkig nie waar is nie.
Die versekerde moet kennis dra van die feit dat daar sekere items is wat afsonderlik gespesifiseer moet word om uitbetaling te verseker.
Items wat onder die alle risiko-afdeling gespesifiseer moet word, is: fietse of rolstoele; mobiele kommunikasietoestelle soos selfone, datakaarte en satellietnavigasie-ontvangstoestelle en -toebehore; oudiovisuele toerusting soos kameras, verkykers, draagbare DVD-spelers, Ipods en MP3-spelers; en rekenaartoerusting en -toebehore.
Indien ‘n versekerde ’n item onder die alle risiko-afdeling wil verseker, moet soveel moontlik inligting rakende dit aan die makelaar deurgegee word. Dit sluit in ‘n volle beskrywing, die serie-nommer (of selfone se IMEI-nommer) en ook die vervangingsbedrag.
Hou in gedagte dat ’n maksimum van 20% van die versekerde bedrag van klerasie-en-persoonlike-besittings per item uitbetaal sal word tydens ‘n eis.
Dit beteken dat, in baie gevalle, ‘n versekerde bedrag van R5 000 vir klerasie-en-persoonlik-besittings gewoonlik nie voldoende is indien jy duur items saam met jou dra nie. Volgens die formule beteken dit dat daar ‘n maksimum bedrag van R1 000 per item geëis kan word.
Veronderstel ‘n vrou se handsak word gegryp wanneer sy op pad is om inkopies te gaan doen.
Die verlore items sluit die volgende in: handsak (R1 500), beursie (R300), drie lipstiffies (R150 elk) asook ‘n duur bottel parfuum (R540). Die eis sal soos volg geskik word: handsak (R1 000), beursie (R300), lipstiffies (R450) en parfuum (R540).
Let wel dat ‘n bybetaling, wat afsonderlik deur elke maatskappy bepaal word, ook van toepassing sal wees.
Persone wat hul fietse spesifiseer en aan wedrenne deelneem, moet baie seker maak dat dit tydens die wedrenne gedek sal wees. Baie versekeraars sluit hierdie soort risiko uit en dis belangrik dat die versekerde kennis dra waarvoor hy gedek is al dan nie.
Laastens wil ek net weer klem lê op die feit dat die versekerde ‘n intensiewe gesprek met sy makelaar moet hê rakende die items wat onder alle risiko gedek moet wees.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.