Almal wat geld belê wil die hoogste opbrengs met die minste risiko hê. Die vraag is egter hoeveel risiko jy kan bekostig, skryf finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Ek vra dit na aanleiding van ’n pensioentrekker wat my onlangs oor haar belegging by ’n eiendomsindikasie-maatskappy gebel het. Sy verdien nie meer die rente wat sy beloof is nie.
Vir haar het ek slegte nuus gehad. Behalwe die rente wat sy nie meer verdien nie, staan sy ’n goeie kans om haar kapitaal – gedeeltelik of in sy geheel – te verloor.
Dit was duidelik dat Mev X nie die belegging verstaan het nie. Sy was egter gretig omdat hoë rente aangebied is.
Die algemene siening is mos dat eiendom ’n veilige belegging is. Normaalweg is dit so, maar beslis nie in dié geval nie.
Om die waarheid te sê, ek sal nie rustig slaap as my geld in enige soortgelyke maatskappy belê is nie. In die algemeen is die beloofde inkomste en likiditeit van kapitaal net nie daar nie.
Hieronder fokus ek op twee bateklasse – aandele en eiendom.
Aandele is na my mening ’n bateklas wat oor die langtermyn ’n goeie kapitaalopbrengs en selfs handige dividende kan betaal. Dit is egter riskant en moet met groot omsigtigheid hanteer word – dus vra ’n kundige om jou te help.
Die beleggingstermyn moet verkieslik vyf jaar en langer wees.
Baie beleggers het al geld verloor deur aandele in ongenoteerde maatskappye te koop en daarom is my raad om slegs te belê in dié wat op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is.
Die bemarkingsaksie van eersgenoemde maatskappye fokus baie keer op ’n toekomstige notering wat dan nooit plaasvind nie.
Daar is een uitsondering – jy kan in jou eie besigheid belê (die tipiese entrepreneur). In baie sulke gevalle lewer beleggings ’n hoë opbrengs.
Almal word iewers in sy lewe gekonfronteer met ’n belegging in eiendom.
Die eiendomsmark is in hierdie stadium baie pap en dus is daar goeie beleggingsgeleenthede. As ’n hoër as normale opbrengs beloof word, moet “rooi ligte” aangaan.
’n Verdere aspek van eiendomsbeleggings is likiditeit. Mens kan nie eiendom met die druk van ’n knoppie verkoop nie. Hoeveel beleggers probeer tans onsuksesvol om van eiendom ontslae te raak?
Hier praat ek meer van eiendomme vir beleggingsdoeleindes. Beleggers blyk nie altyd deeglik bewus te wees van eiendomstrusts wat op die aandelebeurs genoteer is nie.
Die opbrengs mag ’n bietjie minder as dié op jou persoonlike eiendom wees, maar die risiko is veel minder omdat dit gewoonlik gediversifiseer (residensieel, kommersieel en industrieel) is.
Die grootste voordeel is dat jy dit enige tyd kan verkoop en dat huurders en onderhoud nie faktore is nie.
Aan beleggers wil ek sê om te vergeet van beleggingskemas en versigtig te wees vir beleggings waar ’n hoë opbrengs belowe word.
Belê verder by persone wat jy vertrou en maak gebruik van erkende instansies.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.