’n Leser het navraag gedoen oor kapitaalwins en of hy enigsins kapitaalwinsbelasting gaan betaal indien hy sy privaat-woonhuis verkoop, skryf Pieter Willem Moolman.

Ten einde dié vraag te beantwoord, sal ek myself so bietjie wyer oor kapitaalwins uitlaat.

Kapitaalwinsbelasting (KWB) geld vanaf 1 Oktober 2001 en is slegs van toepassing op wins wat ná hierdie datum gemaak is.

Die waarde van die bates op bogenoemde datum is dus baie belangrik en word as die basiskoste gesien. Maak dus seker dat jy ’n kapitaalwinswaardasie hiervoor het.

Die volgende bates word uitgesluit: ’n primêre woning (tensy ’n wins van meer as R1,5 miljoen gemaak word wanneer die bate vervreem word, of die eiendom ’n oppervlak van meer as twee hektaar het); items vir persoonlike gebruik (insluitende klere, seëls, kunswerke, antieke ware en motors); enkelbedrae uit pensioen- of voorsorgfondse asook uittree-annuïteite; ’n wins van tot R750 000 op die verkoop van die bates van ’n besigheid by aftrede; en die opbrengs van ’n langtermynversekeringspolis.

In die geval van individue en spesiale trusts, word die eerste R17 500 wins of verlies nie in berekening gebring nie, buiten waar ’n persoon gedurende die aanslagjaar te sterwe kom. In daai geval word die persoon se jaarlikse uitsluiting tot R120 000 verhoog.

Die insluitingskoers wat toegepas word op die wins bokant hierdie drempel is 25%. Met ander woorde, 25% van die belasbare wins sal teen die belastingbetaler se marginale belastingkoers belas word.

In die geval van maatskappye, beslote korporasies en trusts is hierdie insluitingskoers 50% en geen jaarlikse uitsluiting geld nie.

By trusts, kan kapitaalwins aan begunstigdes toegeken word indien die trustakte daarvoor voorsiening maak, wat dan weer ’n effektiewe koers van omtrent 10% meebring.

Dood word gesien as ’n vervreemding van bates en daarom moet kapitaalwinsbelastingbeginsels in ag geneem word by die ontleding van boedels. Bates wat aan langslewende gades bemaak word, is vrygestel van KWB aangesien ’n “oorrol” plaasvind.

Praktiese wenke sluit in om rekord te hou van verbeterings aan vaste eiendom, insluitende argiteksfooie, oordrag- en boukoste asook ander verbeterings.

Waar vaste eiendom verkoop word, hou ’n gedetailleerde rekord van die verkoopprys en -datum, eiendomsagent-kommissie en prokureurs-, advertensie- en verbandkansellasiekoste. Wanneer dit gekoop word, behoort rekord gehou te word van die aankoopprys en -datum, hereregte, seëls, prokureurs- en waardasiekoste.

In die geval van aandele, hou rekord van die aankoopprys en -datum, die verkoopprys en -datum asook kostes soos handelseffekbelasting.

Wanneer bates geërf word, hou kopieë van die testament van die oorledene, die Likwidasie-en-Distribusierekening asook ’n rekord van die oorspronklike basiskoste en kapitale verbeterings.

Die invloed van kapitaalwinsbelasting kan wesentlik wees en kan slegs vasgestel word indien die boedel deeglik beplan word. Kontak gerus jou finasiële beplanner vir hulp hiermee.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.