’n Lesersvraag rondom die noodsaaklikheid van korttermynversekering het aanleiding tot die tema van vandag se rubriek asook ’n paar wenke gegee, skryf Pieter Willem Moolman.
As polishouers betaal ons elke maand ’n premie aan ’n versekeraar en ’n mens wonder dikwels of hierdie geld nie elders beter belê kon word nie – veral omdat jy moontlik vir jare nie ’n eis instel nie.
Kyk eerder só daarna: as jy nié die nodige versekering het nie en jy beland byvoorbeeld in ’n motorongeluk of jou huis brand af, sal jy die skade uit jou sak uit moet betaal.
Nie net kan dit jou finansieel ruïneer nie, dit kan ook ’n negatiewe uitwerking op jou beleggings in die geheel hê. Die risiko is net te groot om nie verseker te wees nie.
Dis verder belangrik om seker te maak dat jy korrek verseker is.
Maak byvoorbeeld seker dat jou eiendom se sekuriteitsmaatreëls volgens jou versekeraar se vereistes is en dat jou selfoon gespesifiseer is. Wat die huisinhoud betref, stel ’n ordentelike inventaris op.
Om die eisproses te vergemaklik, is dit altyd ’n goeie plan om bewyse van aankope te hou – veral wanneer dit by elektroniese goedere en juweliersware kom. Foto’s van items soos leerbaadjies en skilderye kan selfs as bewys ingedien word.
Bogenoemde maak dit makliker om gesteelde goedere te identifiseer en die vervangingswaarde te bepaal.
Indien jy egter dikwels eis, kan jou versekeraar jou “straf” deur premieverhogings te bewerkstellig.
As polishouer is dit jou verantwoordelikheid om versigtig te wees en op te tree asof jy nie versekering het nie. Met ander woorde, jy moet ten alle tye jou eie risiko bestuur.
’n Versekeraar en polishouer se verhouding is dié van wedersydse vertroue en eerlikheid. Sou jy dus uitgevang word dat jy op enige wyse oneerlik is, sal jou versekeraar nie jou eis uitbetaal nie en kan jy selfs blootgestel word aan strafregtelike vervolging.
Versekeringsbedrog in Suid-Afrika bedra jaarliks tussen R1 miljard en R3 miljard en daar word geskat dat bedrieglike eise premies wêreldwyd met tussen 5% en 15% laat toeneem. Indien jy uitgevang word, kan jy dalk in die toekoms sukkel om versekering te bekom.
Inbrake of diefstal moet binne 48 uur by die polisie aangemeld word en ’n saaknommer moet verkry word. Plaas jou gesteelde selfoon dadelik op ’n swartlys.
Maak doodseker jy lees en verstaan jou polis. Nie alle eise beteken dat jou premie op hernuwing verhoog gaan word nie, maar dis nodig om te verstaan waar dit wel die geval is.
Die doel met korttermynversekering is om jou in dieselfde posisie as voorheen te plaas. Volgens die bepalings en voorwaardes van die poliskontrak is dit presies wat jy kan verwag met die skikking indien jy die korrekte versekering vir jou behoeftes het.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.