So vang my oog ’n pragtige foto van Barack Obama en sy vrou, Michelle, toe ek onlangs weer deur ’n ou, vergeelde koerant blaai.
Die onderskrif lees dat die kiekie by die Inaugural Neighbourhood Ball tydens hul eerste dans as Amerika se nuwe presidentspaar geneem is.
Behalwe vir die grootse geleentheid, is dit hul lyftaal wat my sal bybly. Dit het my dadelik aan die gesegde, “agter elke suksesvolle man, staan ’n suksesvolle vrou”, laat dink.
Om die waarheid te sê, as mens dit Google, kry jy ook: “. . . ingeligte vrou”, “. . . sterk vrou, “. . . meer capable vrou, en ja, “. . . boervrou” (laasgenoemde is seker meer op ons van toepassing!).
Dit tref my dat Barack se Michelle, soos baie ander vroue, nie nét daar was toe hy die oorwinningsdans moes dans nie, sý is waarskynlik een van die groot redes vir dié dans. Want hierdie agter-die-skerm-engele moet baie keer vir jare met fyn voetwerk en perfekte ritme gesigloos op hul wederhelf se dansbaan foxtrot.
Hoewel dit verseker ook tot die magic van die vennootskap bydra, wil ek nie vandag op die tradisionele rol van vroue as eggenote fokus nie.
Ek wil delf tot by daai onderliggende, diepliggende onderskraging wat tussen twee mense wat mekaar liefhet, bestaan. Daai stille begrip vir die ander een se ambisie en drome en ’n onbaatsugtige berusting in die wete dat hy (of sy) dit verbete najaag.
In Michelle se oë sien ek die onthou van baie nagte se gangaf-loop om te kyk of haar man nog wakker is agter sy lessenaar. Ek sien die verwyteloosheid wanneer sy wéér alleen moet terugstap kamer toe, waar sy ’n stille gebed doen dat hy sterk sal bly.
Ek sien die onthou van hul swaarkry toe die kritici se dolke deur die jare diep wonde gekloof het. Ek sien die onthou van oomblikke toe sy nader aan hom moes staan en tye toe sy diep in die skadu’s was.
Dis egter die speelse uitdrukking om haar mondhoeke, wat sê “ek verstaan jou”, wat my opval en bybly.
Ek dink elkeen van ons wat ons in ’n verhouding begewe, moet die moeite doen om soms te gaan stilsit en weer te onthou wat jou maat se drome en ideale is, sodat julle mekaar daarin kan aanspoor.
Hiermee saam, glo ek, moet ’n bereidwilligheid kom om die konvensionele rolle soms om te ruil of af te wissel, want net vervulde individue kan werklik volheid aan ’n verhouding gee.
Ek lig vandag my hoed vir mense wat hul lewensmaats se drome hul eie kan maak; hulle ten koste van hulself op hul paadjie inspireer, ondersteun, soms verduur, maar veral verstaan.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited