Geskryf vir Property Poser
Ons Property Poser paneel word vandeesweek rondom die rente wat op die deposito’s van huurders betaalbaar is, gepols.
Die leser, wat reeds nege jaar ’n huis huur, vra onder meer: of daar altyd rente betaalbaar is, selfs al word dit nie in die kontrak gestipuleer nie; hoe die koers bepaal word; en of die huurder enige insae het in waar dit belê word.
Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch sê die huurkontrak tussen ’n huurder en verhuurder asook die Wet op Huurbehuising No 50 van 1999 reguleer die verhouding tussen die huurder en verhuurder van onroerende eiendom.
“Beide die wet en die huurkontrak sal dus stipuleer wat die regte en verpligtinge van die partye is.”
Sy sê indien die huurkontrak nie ’n spesifieke aangeleentheid aanspreek wat wel in die wet vervat is nie, bepaal die wet dat ’n hof die huurkontrak sal interpreteer asof die bepalings van die wet wel daarin geïnkorporeer is.
Geldenhuys sê die wet (Hoofstuk 3, Artikel 5) stipuleer dat ’n verhuurder mag eis dat ’n huurder ’n deposito betaal alvorens hy of sy intrek. “Dit is egter nie ’n wetlike vereiste dat die huurder wel ’n deposito moet betaal nie.”
Sy sê die grootte van die deposito mag enige bedrag wees waarop die partye ooreenkom wanneer hulle oor die voorwaardes van die huurkontrak onderhandel. “Die verhuurder moet volgens die wet die deposito in ’n rentedraende rekening by ’n finansiële instelling plaas.”
Geldenhuys sê die verhuurder moet verder die rente op die rekening (wat nie minder mag wees as die rente wat ’n gewone spaarrekening by ’n finansiële instelling sal verdien nie) by verstryking van die huurtermyn aan die huurder betaal.
Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg sê die verhuurder is verplig om ’n kwitansie aan ’n huurder uit te reik vir alle betalings wat hy of sy in terme van die huurkontrak maak, insluitende die deposito.”
Hy sê die huurder mag gedurende die huurtermyn die verhuurder versoek om hom of haar van ’n skriftelike bewys van die belegging van die deposito te voorsien; met dien verstande dat indien die verhuurder ’n geregistreerde eiendomsagent is, daar met die deposito en die rente gehandel sal word ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Eiendomsagente Nr 112 van 1976.
“Indien die huurkontrak vir ’n onbepaalde tyd voortduur, sal die huurder eers by beëindiging daarvan die rente op die deposito ontvang.”
Van der Merwe sê die verhuurder is wel geregtig om die rente saam met die deposito (gedurende of aan die einde van die huurtermyn) aan te wend om enige skade waarvoor die huurder aanspreeklik is, te dek.
“Die leser moet sy verhuurder versoek om ’n kwitansie vir die deposito asook skriftelike bewys van die belegging van die deposito ooreenkomstig die wet, te verskaf. Indien die verhuurder dit nie belê het nie, het hy of sy teenstrydig met die wet opgetree.”
Die leser kan in daardie geval eis dat die verhuurder hom moet vergoed met die bedrag wat die rente sou beloop het in ’n gewone spaarrekening ooreenkomstig die rentekoerse wat van tyd tot tyd daarop van toepassing was, aldus Van der Merwe.
Stuur jou eiendomsverwante vrae hier.