Geskryf vir Property Poser
Ons Property Poser paneel deskundiges het ’n vraag van ’n leser ontvang wat oor die kosteberekening van seëlregte handel.
Sy wil weet of seëlregte op huurkontrakte steeds volgens die tradisionele formule bereken word en of dit met ’n belasting soortgelyk aan oordragkostes vervang is.
Volgens Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch het die Wet op Seëlregte 77 van 1968 seëlregte op dokumente soos huurkontakte van onroerende eiendom asook ongelyste bemarkbare sekuriteite gehef. “Seëlregte was dus ’n vorm van indirekte belasting.”
Sy sê dié wet is op 31 Maart 2009 herroep. “Die motivering hieragter was om die administratiewe las op belastingbetalers te verlig asook die belastingstelsel te vereenvoudig.”
Geldenhuys sê die herroeping van die wet was nie retrospektief nie, wat beteken dat alle huurkontrakte wat voor 1 April 2009 in werking getree het, steeds hanteer moet word asof die wet nie herroep is nie. “Seëlregte is dus steeds betaalbaar op huurkontrakte wat voor April vanjaar in werking getree het.”
Die wet is in 2007 gewysig met die effek dat alle korttermyn-huurkontrakte vir onroerende eiendom wat ná 1 Junie 2007 geteken is, vrygestel is van die heffing van seëlregte, aldus Geldenhuys. “’n Korttermyn-kontrak is een met ’n termyn van vyf jaar of korter.”
Sy sê seëlregte was ná dié wysiging egter steeds op langtermyn-huurkontrakte betaalbaar.
Geldenhuys sê langtermyn-kontrakte, oftewel kontrakte van vyf jaar en een dag of langer, is, volgens die gewysigde wet, onderhewig aan seëlregte teen ’n koers van 0,5% van die totale huurinkomste vir die totale termyn.
Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg sê indien ’n huurkontrak vir ’n onbepaalde tyd was, byvoorbeeld maand-tot-maand, moes dit hanteer word asof dit ’n korttermyn-kontrak was en dus sou daar geen seëlregte daarop betaalbaar wees nie.
“Indien die huurkontrak vir ’n bepaalde asook ’n onbepaalde termyn was, byvoorbeeld vir ’n vaste termyn van ses jaar en daarna vir ’n onbepaalde termyn tot dit deur een van die partye gekanselleer word, sou dit vir die totale termyn geseël moes word.”
Dit beteken, sê Van der Merwe, dat die aanvanklike ses jaar sowel as die onbepaalde termyn, wat as vyf jaar geag moet word, bymekaar getel word. “Seëlregte sou dus op die totale huurinkomste vir ’n termyn van elf jaar bereken word.”
Volgens Van der Merwe word die verhuurder aanspreeklik gehou vir die betaling van die seëlregte aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Sars) vir alle kontrakte wat voor 1 April 2009 geteken is. “Die kontrak kan wel voorsiening maak dat die huurder die koste van die seëlregte moet dra, maar vanuit ’n wetlike oogpunt berus die verantwoordelikheid om die kontrak te seël by die verhuurder.”
Van der Merwe sê die verhuurder moet die huurkontrak binne 30 dae ná die laaste party dit geteken het, laat seël om boetes vry te spring.
Volgens hom het Sars onlangs afgekondig dat inkomsteseëls vanaf 1 November 2009 nie meer vir algemene gebruik beskikbaar sal wees nie.
Stuur jou eiendomsverwante vrae hier.