Afrikaans is nou eenmaal ’n taal met van die mooiste en beskrywendste uitdrukkings.

En met Junie wat nasionale bloedskenk-bewustheidsmaand was, kon ek nie help om aan ’n legio uitdrukkings oor dié rooi plasma – wat tegelykertyd volop en seldsaam is – te dink nie.

Sêgoed soos “dit het sy bloed in sy are laat stol”, “hy probeer bloed uit ’n klip tap” en “dit sal bloedsweet kos” het onder meer by my opgekom.
 
En terwyl ek so na al die statistieke oor bloedskenking geluister het, kon ek nie help om ’n parallel tussen die bogenoemde uitdrukkings en die dag-tot-dag oorlewingstryd wat die bloeddiens voer, te trek nie. En dit alles om te verseker dat daar genoeg (veilige) bloed vir jou en vir my is.

Mý bloed het ook behoorlik in my are gestol toe ek hoor dat sowat 95 persent van ons, met ander woorde amper almal, eendag bloed of bloedprodukte sal benodig, maar dat net één persent van ons skenkers is . . .

Ten spyte van allerlei mediese wonderwerke, is bloed een van die min dinge wat nie sinteties in ’n fabriek of laboratorium vervaardig kan word nie. Boonop, verstaan ek, is dit moreel en wetlik oneties om mense finansieel vir hul bloed te vergoed.

Tong-in-die-kies gesproke, sou dit in dié tye nogal ’n fantastiese verhandelbare kommoditeit kon wees. Dink net, jou voorraad word binne ’n week of wat vanself en sonder verdere uitsetkostes weer ten volle aangevul – voorwaar ’n sakeplan sonder gelyke!

Mense is mos maar mense en ons het almal verskonings hoekom ons nie skenk nie, waarvan ’n heilige vrees vir naalde, natuurlik, die grootste (en myns insiens ook slegste) is.

Ek laat my byvoorbeeld nie vertel dat ’n persoon met dié fobie hom deur die prikkie van ’n naald gaan laat onderkry as hy of sy eendag, op sy doodsbed, aan die ontvangkant van hierdie lewensvloeistof is nie . . .

As mens na die elle lange lys van vrae kyk wat potensiële skenkers moet beantwoord (selfs of hulle onlangs gaatjies in hul ore laat skiet het), besef jy dis gewis nie sommer enigeen wat kan skenk nie. Want, net soos bloed ’n lewe kan red, kan dit ongelukkig ook een verwoes.

Ek verstout my egter om te sê dat méér as een persent van die bevolking dié toetsie met vlieënde vaandels sal slaag.

Iemand het op ’n slag bloedskenkers as “stille helde” bestempel aangesien hulle lewens red sonder om die persoon ooit te sien en, seker meer prysenswaardig, krediet daarvoor te kry.

Die beste van alles is dat dit in elkeen van ons se broek sit om dié heldedaad te verrig – en dan hoef jy nie eens jou eie lewe in die gedrang te bring nie.

Dit kos jou eenvouding moue oprol, oë toeknyp en ’n prikkie later het jy iemand van ’n gewisse dood gered.

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited