Geskryf vir YourProperty
Vandeesweek se Property Poser leser het onder meer probleme met ’n huurder wat nie op tyd betaal nie.
Volgens hom bepaal die kontrak dat die huurder voor of op die eerste dag van elke maand haar huur moet betaal.
Hy sê sy kom nie dié klousule na nie en elke maand is dit ’n geveg om sy geld te kry. Volgens hom het hy die vorige maand eers teen die 27ste sy geld ontvang.
Die kontrak bepaal volgens hom ook dat beide partye drie kalendermaande kennis moet gee om die huurkontrak te beëindig.
Die huurder het hom aan die begin van Maart kennis gegee en moet dus teen einde Mei uit wees. Sy vraag is nou wat hom te doen staan indien sy nie teen die ooreengekome datum uit is nie.
Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch sê die Wet op Huurbehuising Nr 50 van 1999 bepaal die aard van die verhouding tussen ’n verhuurder en ’n huurder met betrekking tot residensiële eiendom.
Sy sê die wet is op beide mondelinge en skriftelike huurkontrakte van toepassing en artikel 3 beskryf watter regte en verpligtinge beide partye tydens die huurtermyn het.
“Een van die verhuurder se regte wat in dié betrokke artikel omskryf word, is dat hy of sy die reg het op tydige en gereelde betaling van die ooreengekome huurbedrag,” sê Geldenhuys.
“Indien die huurder nie betaal nie, of indien die huur laat betaal word, kan dit as kontrakbreuk beskou word en as gronde vir die beëindiging van die kontrak dien.”
Geldenhuys sê indien die huurkontrak voorsiening maak vir ’n boete vir laat betalings, sal die verhuurder geregtig wees om die boete te hef.
“Die huurder moet egter voor ondertekening van die kontrak van die boeteklousule bewus gemaak word, sodat hy of sy die geleentheid het om nie die kontrak te teken nie en eerder ’n ander eiendom te huur.
“Die boete moet verder nie buitensporig wees nie en die verhuurder moet dit elke keer toepas wanneer die betaling laat is, nie slegs nou en dan nie.”
Geldenhuys sê wanneer die huurkontrak tot ’n einde kom (hetsy as gevolg van kansellasie deur een party voortspruitend uit die ander se kontrakbreuk, die gee van kennis soos in die leser se geval of deur gemeenskaplike ooreenkoms), het die verhuurder kragtens artikel 5(d)(i) van die wet die reg om die eiendom terug te ontvang in die toestand waarin die huurder dit gekry het, normale slytasie uitgesluit.
Indien die huurder nie die eiendom ontruim nie, mag die verhuurder die eiendom terugneem na verkryging van ’n hofbevel, sê Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg. “Die verhuurder kan ook ’n eis instel vir die uitstaande huur, verlies aan toekomstige huurgeld en skadevergoeding indien van toepassing.”
Volgens hom het die verhuurder ’n stilswyende hipoteek oor alle roerende besittings van die huurder wat in die verhuurde eiendom teenwoordig is.
“Die verhuurder moet die nodige regsproses volg om op die besittings beslag te lê en mag dan, nadat die hofbevel toegestaan is, die besittings verkoop en die opbrengs aanwend om die bedrag wat deur die huurder verskuldig is, te delg.”
Van der Merwe sê daar is wel faktore wat die uitsetting van huurders kan bemoeilik, byvoorbeel artikel 26 van die Grondwet. “Dit bepaal dat alle persone die reg het op toegang tot geskikte behuising en dat niemand sonder ’n hofbevel, wat ná oorweging van alle tersaaklike omstandighede toegestaan is, uit hul wonings gesit mag word nie.”
Die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond Nr 19/1998 is ook van toepassing op gevalle waar ’n voormalige huurder van eiendom vir bewoningsdoeleindes na verstryking van die huurkontrak onregmatig op die perseel aanbly, aldus Van der Merwe.
“Die leser moet seker maak dat hy aan die bepalings van al die relevante wetgewing voldoen om ’n uitsettingsbevel te kry as die huurder nie die eiendom op die verstrykingsdatum ontruim nie.”
Stuur jou eiendomsverwante vrae hier.