Vandag se rubriek is spesiaal vir die gebruikers van ons land se gunsteling-vastelyndiensverskaffer.

Maar miskien moet mens eerder net van “verskaffer” praat, want deesdae kan die woord “diens” kwalik in dieselfe sin genoem word – wat nog te sê van dieselfde woord!

Dis nou as mens die keelvolles en beswaardes – wat elke kolom-sentimeter van die plaaslike koerante se briewekolomme volskryf – kan glo.

Sélf het ek my nog nie hiertoe gewend nie, want die kool is eenvoudig nie die sous werd nie. As dit jou plan is om reaksie (van die verskaffer af) uit te lok, gaan jy waarskynlik selfs minder sukses behaal as wanneer jy hul hulplyn bel.

’n Vriend vertel my nou die dag van ’n stel wat hy met dié einste verskaffer afgetrap het. Ek herhaal die verkorte weergawe hier, maar net omdat dit verskuilde raad bevat . . .

In Februarie het hy opgelet dat die lyn wat vanaf die telefoonpaal op die hoek van sy erf tot by sy huis se dak strek, spanning verloor het. Dit was reeds so slap dat dit deels op die dak van ’n buitegebou gerus het.

Hy het dadelik die verskaffer gebel en was aangenaam verras toe die operateur dit dadelik na die kabelafdeling verwys. Die dametjie vra toe of die foon “darem nog” werk en my vriend beaam dit.

Maar, het hy verduidelik, die lyn skuur teen die skerp rand van die asbesdak wanneer die wind waai en dit is waarskynlik besig om die insulasie weg te vreet.

Hy het benadruk dat hy van die huis af werk en dat hy skade sou ly indien die telefoon skielik onklaar sou raak. Sy belowe toe dat hulle “dadelik” aandag aan die kwessie sou skenk.

’n Maand later was daar steeds geen taal of tyding van die tegnici of hul beloofde oproep nie en nadat hy hom eers behoorlik opgewerk het, bel hy toe maar weer.

Vir redes wat by dié in die bogenoemde briewekolomme aansluit, was hy glad nie verbaas om te hoor hulle het geen rekord van sy vorige oproep nie!

Hy byt toe maar op sy tande en herhaal die hele relaas, want in sy diepste wese het hy besef die operateur is inderdaad sy enigste hoop op langtermyn-sukses.

So vra die tweede dametjie ook of die telefoon “darem nog” werk. Hy sê toe weer “ja”.

Al wat ná dié oproep gebeur het, was dat somer stadig maar seker in herfs verander het. Die telefoonlyn tussen die verskaffer en my vriend se huis kon vir alle praktiese doeleindes morsdood gewees het.

’n Derde oproep én die verwysingsnommer waarmee hy dié slag gewapen was, het bevestig dat die klagte “in die sisteem” is en steeds hul ernstige aandag geniet.

Maar toe hy wéér gevra word of die telefoon “darem nog” werk, antwoord hy uit pure frustrasie: “Net somtyds”.

In daai geval merk sy dit as ’n prioriteit, kom haar antwoord toe, want, terwyl dit nog werk, ignoreer hulle dit gewoonlik . . .

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited